Preke van die Gereformeerde Kerk Brits
janlouis@scriptura.co.za (janlouis@scriptura.co.za)
Isak is reeds veertig jaar oud en ongetroud. Sara is dood en Abraham nader ook die einde van sy lewe. Die verbondslyn moet voortgesit word, maar Isak het nog geen nageslag nie. Daarom gee Abraham opdrag dat sy slaaf ‘n vrou by sy familie gaan soek. Dit is belangrik – omdat die Kanaänitiese vrouens onder geen omstandighede ‘n opsie sou wees nie. God wil dat sy volk nie deur die vervloekte afgodery en rebellie van die heidene verlei word nie. Die vrou deur Hom vir Isak bestem – moet rein en onbevlek wees. Sy moet eenkant, afgesonderd wees. Daarom reis die slaaf sowat 650 km na Nahor, die stad van Abraham se broer, in vertroue dat God die vrou wat Hy bestem het, sal aanwys. Nes die meisies van die stad in die aand gaan water haal, bereik hy die stad en ontmoet vir Rebekka. Rebekka is die tweede Abraham, wat uit haar omstandighede na Kanaän gebring word, uit die huwelik tussen Isak en Rebekka, sou die verbondsbeloftes – die volk Israel – waar word. Die reinheid van Rebekka is ‘n simbool van die reinheid van die bruid van Christus- die kerk. Soos sy gereed gemaak en voorberei word vir die huwelik met Isak, word die kerk vandag voorberei en gereedgemaak vir die Bruilof met die Bruidegom, word die Bruilofsmaal voorberei. In hierdie proses word ons hoe langer, hoe meer, geheilig om die beeld van Christus te vertoon.
Paulus lê in die eerste paar verse van die brief aan die Korintiërs besondere klem op roeping: sy roeping as apostel, maar ook op die roeping van die gemeente. Letterlik beteken gemeente (ekklesia) – ‘uitgeroeptes’. En die gemeente roep God dan op haar beurt aan. God roep; ons luister. God roep; ons roep Hom aan; dit word iets van ‘n belydenis. God gee die mandaat, daarbuite durf ons nie optree nie. Elke gelowige is uitgeroep – uit die donkerte van sonde en ellende en deelgemaak van ‘n gemeenskap van uitgeroeptes (gemeente). En omdat ons deel is van die kerk, weet ons da tons Koning, Jesus Christus regeer. Hy is die Bruidegom; ons is die bruid. Hy ken aan ons die eretitel van ‘geroepe heilges’ toe wat beteken dat ons vir sy doel, vir sy eer, in afsondering van die wêreld kerk sal wees. So herfokus God ons lewe: Ons as gemeente is ’n skepping vanuit die almagtige wat ons tot sy eer in hierdie gemeenskap saamvoeg
GOD OPENBAAR HOMSELF AS SOEWEREIN EN GETROU- KEN HOM SO! Toe die profeet by die volk Israel aankom met hierdie Godspraak, was hulle alreeds vir 70 jaar in ballingskap in Babilonië. Hulle is van hul huise, tempel en kultuur verwyder. Hulle het regtig swaar gekry. Dan kom die profeet daar aan, en bring die Woord van God. Daar is uitkoms! Die Here stuur sy gesalfde, ʼn dienaar wat sy volk kom verlos. God se redding kom op sy tyd, dit kom sonder dat enige mens dit kan keer. God is almagtig, geen mens, ding, of natuurlike verskynsel kan Hom keer as Hy wil red nie. God is getrou, alles wat Hy doen en met ons laat gebeur dien sy raadsplan wat tot ons guns uitwerk
DIE GAWE VAN DIE GEMEENSKAP VAN GELOWIGES Ons bely telkens dat ons in die gemeenskap van gelowiges glo. Dit is inderdaad 'n belangrike belydenis; want Christus, wat met sy liggaam en bloed vir ons betaal het, bind ons as 'n gemeenskap van gelowiges aan mekaar. So leer ons dat die gemeenskap van gelowiges deur die band van geloof in Christus aan mekaar verbind is – onlosmaaklik verbind is, en saam die opdrag tot evangelieverkondiging dra. Voorts vertrou die gemeenskap op God vir die krag om SY werk te volbring. Saam, in diens van die Here tot Sy eer. #2 TEMA: DIE BLYE DIENSKNEG Dit is interessant dat Paulus by die aanhef van die brief die beroep op sy apostoliese gesag weglaat, en eerder klem plaas op sy en sy medewerkers se dienskneg-status. Ongetwyfeld sou die stad, met sy afgetrede (en natuurlik belangrike) soldate baie statusbewus gewees het. Dit het in sommige gevalle die belewenis en uitvoering van die gemeenskap van gelowiges in die wiele gery. Daarom is die boodskap van die eerste gedeelte van die brief: * 'n Christen is en bly ’n dienskneg (slaaf) van Christus. * 'n Christen is afgesonder in en vir Christus. * 'n Christen is intiem verbind aan die gemeenskap
Wanneer Vasti onttroon word, bestyg Ester die troon. Skielik word hierdie onbekende meisie, ‘n Jood met die naam Hadassa, die koningin van die magtige Persiese ryk. Kunstig vermom in die Persiese kultuur, word sy in die paleis heeltemal geïsoleer van wat aangaan. So goed kamoefleer sy haarself as ‘n Pers dat niemand daarvan sou droom om haar as ‘n Jood te identifiseer nie. En meteens is daar ‘n krisis vir die Joodse volk. Hulle staar uitwissing in die gesig, want die proklamasie van Haman is uitgevaardig in al 127 provinsies. Onwetend leef Ester in die weelde van die paleis. Dit is eers wanneer Mordegai haar daarvan inlig dat sy bewus word van haar unieke posisie en roeping. Aan die hand van Ester se verhaal hoor ons: 1) Ware geloof is herkenbaar 2) Ware geloof antwoord ‘ja’ op die roeping van die Here 3) Ware geloof vertrou op God se plan, eerder as jou eie.
HOEKOM VERBAAS DIE ALMAG VAN GOD JOU? Die apostel Jakobus word deur Herodes teregestel en Petrus word gearresteer. Die gemeente word vervolg, met die gedagte dat dit eindelik die einde van die kerk sou beteken. Herodes vergryp hom aan die kerk, omdat hy sy magsbasis wil verbreed en daarmee in die guns van die Jode wil bly. So is hy ‘n instrument in die hand van die Satan. Maar in sy grootheidswaan matig hy hom aan dat Hy ‘n god is; en word eindelik deur God daardeur gestraf. Dit wys vir ons een reaksie op die almag van God: ignoreer, rebelleer, verwerp. Aan die ander kant bid die gelowiges. Hulle bid aanhoudend en met erns. En wanneer Petrus dan vrygelaat word, staan hulle verbaas. Hulle kan dit amper nie glo dat hulle gebed verhoor is nie. Dit wys ‘n ander reaksie op die almag van God: ons wag en sien maar of dit werk. Die Here openbaar Homself as soewerein en vrymagtig. Hy beskik en besluit sonder die medewerking van die mens. Daarom behoort ons te vertrou en verwonderd te staan oor hoe Sy almag tot openbaring kom in die uitbreiding van sy kerk en koninkryk.
WARE TROOS KOM VAN GOD ALLEEN Valse troos is nie net irriterend nie, maar afbrekend. Valse troos, al is dit goedbedoeld – _is niks minder as 'n leuen nie. Mense deel dan ook baie maklik valse troos uit: Toemaar, agter elke donker wolk skyn die son. Toemaar, dit sal oorwaai. Toemaar, dit is nie so erg nie. Israel het maar te goed van valse troos geweet. God het profeet op profeet gestuur om die volk uit hul sonde tot bekering te ruk, maar hulle het die ware profete verwerp, ten gunste van valse verkondigers wat hulle doodgesus het in hulle sondes. Die uiteinde daarvan – _ballingskap. Tog, in die donkerte van Babel troos die HERE sy volk opnuut. Die Here skenk ware troos in ware barmhartigheid. Ons leer vandag: Waar ons behoefte aan troos vandaan kom. Aan wie die troos verkondig moet word. God se teenwoordigheid in sy troos God het ons goed geskep.
NEGE AANVULLINGS VIR DIE GELOWIGE Hoe belangrik is dit nie dat ons gedurig aangevul word in ons geloofslewe nie. In die laaste twee hoofstukke van 1 Tessalonisense gee die Here deur die apostel Paulus ʼn negetal voorskrif-aanvullings aan die jong gemeente in Tessalonika. In die laaste twee hoofstukke van 1 Tessalonisense gee die Paulus nege aanvullings om die Tessalonisense, en natuurlik ook vir ons, te help om ons daarop toe te lê om ʼn lewe te voer tot God se eer. Die eerste aanvulling: Ons huweliks- en sedelike lewe Die tweede aanvulling: julle moet mekaar liefhê (1 Tessalonisense 4:9 – 10) Die derde aanvulling: hoe moet julle dink oor arbeid (1 Tess. 4:11 – 12) Die vierde aanvulling: hoe moet ons dink as iemand onder ons sterf? (1 Tess. 4:13 – 18) Die vyfde aanvulling: wees waaksaam want ons weet nie wanneer Jesus weer kom nie Die sesde vyfde aanvulling: waardeer (erken) jou voorgangers ( 1 Tessalonisense 5: 12,13) Die sewende aanvulling: leef in persoonlike verhouding met jou mede-gelowiges ( 1 Tess. 5:14,15) Die agste aanvulling: jou daaglikse innerlike houding ( 1 Tess. 5:16 – 18) Die negende aanvulling: toets die prediking en leef daarvolgens( 1 Tess. 5:19 – 22) Wie erns maak met hierdie praktiese riglyne in sy lewe kan verseker weet dat die Here gees en siel en liggaam sal bewaar wanneer Christus weer kom.
TEMA: DIE GOD VAN DIE VERBOND IS ONS ROTS VAN VERTROUE Die agtergrond van Psalm 46 vind ons in 2 Kronieke 32, 2 Konings 19 en Jesaja 37. Sanherib, die koning van Assirië dreig met arrogante bravade Jerusalem en laster God. By herhaling tart hy vir God, probeer hy die stad sover kry om oor te gee in sy mag. Paniek, angs en kommer is aan die orde van die dag. In hierdie omstandighede plaas God sy kinders prakties in die skool van vertroue. Anders as op skool, leer ons nie VOOR die toets nie, maar IN die toets. Dit is hoe die Here sy kinders leer om op HOM en Hom alleen te vertrou. So word Psalm 46 in baie kringe die ‘Hooglied van die geloof’ genoem. Dit is ‘n geloofsbelydenis, ‘n lied van vertroue dat God, ongeag die omstandighede – getrou bly. God word telkemale in die Skrif as die Toevlug of Sterkte besing. Letterlik beteken daardie woorde dat God ‘n plek van vertroue is. Hy bied skuiling waar daar andersins nie skuiling is nie. Hy is die bron van ons sekuriteit, plek van veiligheid waar sy kinders telkens kan kom skuil. Benoudhede kan daarop geen invloed hê nie, maak nie saak hoe beperkend die omstandighede ook al mag wees nie. Die Here beskerm sy kinders van geloofsentevrees. En hierdie belydenis bied ons as kinders van God die troos dat al sou wat ook al gebeur – al sou die berges tot in die dieptes van die see val; al sou totale chaos rondom ons uitreek – is HY ONS TOEVLUG. Gelowiges wat so leef; leef nie in volstruismentaliteit nie – maar kyk die REALITEIT VAN GOD SE SOEWEREINITEIT vierkantig in die oë.
Die gelykenis van die huurders wat op verskillende tye gehuur is, lyk op die oog af onverklaarbaar en onregverdig. Die Eienaar van ‘n wingerd huur op verskillende tye van die dag uit en huur werkers om in sy wingerd te kom werk. Aan die einde van die dag kry elkeen van daardie arbeiders presies dieselfde loon. In ‘n wêreld waar ons vertroud is oor arbeidsregte, -dispute en salarisgeskille klink hierdie heeltemal onregverdig. Hoe kan die eienaar almal presies dieselfde loon gee? Tog begryp ‘n mens dat die die gelykenis verwys na gelowiges wat in die Koninkryk van God leef. En as ‘n mens dan daarmee besef dat die loon ter sprake verwys na God se genade, dan maak dit mooi sin: Genade is om te ontvang wat ons nie verdien nie. Per definisie kan ‘n mens nie genade verdien nie. Maar tog verder as dit: Genade is om presies die teenoorgestelde te ontvang van dit wat jy verdien. Binne sy vrymag bedien God aan sondaars, wat tot die dood toe sondig is, en van Hom af na die verdoemenis weghardloop – uit sy vrymagtige en soewereine hand – ONVERDIENDE genade. Daarom: Sola Gratia. God se genade is onverklaarbaar, maar tog so wonderlik!
In die tyd voor die Reformasie het die lidmate nie werklik die Bybel geken nie. Al wat hulle gehad het, was die sg. “Boeke van die leke”, wat die geskiedenis van die Bybel vir hulle uitgeprent het. Die Rooms-Katolieke kerk het gemeen dat die Bybel te ingewikkeld is vir gewone mense om te verstaan, en daarom moet ‘gewone’ mense dit nie eers probeer bestudeer nie. Maar met die deurbraak van die lig, die Reformasie wat eintlik maar net die HERONTDEKKING van God se Woord verteenwoordig, het die kerk besef hoe belangrik die Woord in die hande – en harte van elke lidmaat is. Elkeen mag (EN MOET!) die Woord lees. In die maand of wat voor die herdenking van die Hervorming (vanjaar 502 jaar gelede) op 31 Oktober, gaan ons die 5 beginsels waaraan die Hervormers vasgehou het, bestudeer – die sg. 5 Sola’s. Sola is ‘n Latynse woord wat “Alleen/Alleenlik” beteken. 1. Sola Scriptura – Die Heilige Skrif alleen 2. Sola Fidé – Alleen deur geloof word ons gered 3. Sola Gratia – Alleen Genade 4. Solus Christus – Alleen Christus 5. Soli Deo Gloria – Aan God alleen die Eer! Vandag sien ons hoe God dit duidelik in die Skrif stel dat ons die Skrif alleen nodig het om Hom te ken, om in ‘n verhouding met Hom te lewe en seker te wees van die verlossing in Christus.
Tema: God is nie 'n diensverskaffer nie. Die Ballinge wat in Babel gewoon het, het nie dieselfde visie op hulle lewensomstandighede gehad as wat God gehad het nie. Die uiteinde was dat hulle valse verwagtinge van God gekoester het. Die sleg daarvan is dat hulle ook nie dieselfde toekomsverwagting met God gedeel het nie. Uiteindelik bring so ‘n mistasting verwydering tussen jou en God. Hierdie verwydering kan berus op teleurstelling, of ‘n valse voorstelling van wie God eintlik is.Dit is daarom belangrik om jouself en jou omstandighede deur God se oë te sien.
Josef se broers mag nou terugkeer na Egipte met Benjamin. Dit is ‘n dringende tog: die kos is reeds klaar in die swaar hongersnood, en Simeon is nou al vir ‘n geruime ruk in die tronk. Tog nader die broers Egipte met groot huiwering, deels omdat hulle die geheime van die verlede wegsteek, en deels omdat hulle nie weet wat om te verwag nie. Josef lê dan drie toetse aan om te sien of daar bekering, hartsverandering en opregte skuldbelydenis is – want daarsonder kan daar nie versoening wees nie. Die eerste toets is die toets rondom die geld wat weggesteek was in hulle sakke, die tweede toets is die ooglopende voortrekkery van Benjamin om te sien of die jaloesie-monster van die verlede sy kop sal uitsteek. Laastens word die drinkbeker in Benjamin se sak versteek. Wanneer die broers die toetse slaag en Juda homself opoffer vir sy broer, is die versoening onmiddellik en volledig. Dit is ‘n merkwaardige en aangrypende stuk geskiedenis. Juda word ‘n tipe van Christus, wat plaasvervangend vir God se kinders ly.
Jakob is op ‘n dooiepunt in sy geloof. Hy ervaar alles as teen hom, hy sien geen uitweg en hoop nie. Die lewe is vir hom uitdagend en vyandig. Dit is nou die tweede jaar van die knellende hongersnood wat deur die Farao se drome voorspel is. Die kos wat uit Egipte gekom het met die eerste reis van Jakob se seuns, is klaar. As Jakob dan sy seuns opdrag gee om weer te gaan kos koop, is dit in wese ‘n onmoontlike taak as Benjamin nie saamgaan nie. God gebruik hierdie omstandighed om as’t ware vir Jakob wakker te skud en te leer om op Hom te vertrou. Jakob moet besef wat hy vergeet het: God sorg vir sy kinders, selfs al lyk dit nie so nie. Daarvan getuig sy lewe immers! En deurdat hy nou vir Benjamin laat gaan, en sy houvas en beheer op die situasie prysgee, kan hy besef en glo dat God in beheer is.
Ons vind aan die einde van Genesis 41 vir Josef op ’n hoogtepunt. Onderkoning van Egipte, met die wêreld letterlik aansy voete. Oraloor kom mense kom in die knypende hongersnood,kos te koop. Josef sou nie omgegee het as sy verhaal hier eindig nie. Min weet hy dat die plan van God nog nie voltooi is nie. In Kanaän lyk die prentjie benard. Die kos is klaar en Jakob verwyt sy seuns wat in onbeholpenheid ledig sit; terwyl die wêreld na Egipte gaan om kos te kry. Jakob sien, maar die broers weier om raak te sien waar daar moontlik ’n oplossing is. Die seuns weet egter iets wat Jakob nie weet nie, wat hulle verhinder; en dit is die geskiedenis van hulle sonde met Josef. Die situasie word omgekeer in Egipte as Josef sy broers herken, maar hulle herken hom nie. Josef verberg sy identiteit om sy broers te toets, om seker te maakdat hulle harte verander het.
Ons kan eintlik vir die hele geskiedenis van Josef 'n breë tema identifiseer: God se voorsienige hand van versorging oor sy kinders. Elke onderafdeling van hierdie verhaal lig die sluier stuk vir stuk oor hoe God met sy kinders werk en begelei. In die gedeelte wat ons vandag behandel, bevind Josef hom nog in die tronk as gevolg van die gebeure in Potifar se huis. Hy het die hoof van die skinkers se hulp ingeroep om vir hom 'n goeie woord by die Farao te doen, maar helaas het die skinker vergeet. Dit alles gebeur, want God is in beheer van die situasie. So kry die Farao 'n droom wat hom ontstel. Dit sit dan die bekende gebeure van die droom van die koeie en are aan die gang – _wat ons opnuut van God se beskikking verseker. Genesis 41 leer ons: 1) God sorg in sy voorsienigheid vir die gelowiges. 2) Sodat ons op sy voorsienigheid sal vertrou
TEMA: GOD VERGEET SY KINDERS NOOIT Soms word krisisse in ons lewens so groot dat dit voel of God van ons vergeet het. Niemand van ons is gevrywaar van geloofslaagtepunte nie. Maar God maak dit duidelik, spesifiek vanuit Josef se geskiedenis in Genesis 40; dat Hy nooit van ons, sy kinders vergeet nie. Josef het baie ver geval, eens die lieflingseun van sy pa; nou ‘n slaaf in dietronk. Tog berei God sy weg om sleutel in die verlossing van sy volk te wees. So het die hofamptenare van die Farao teenoor hom oortree, en hulle beland in die tronk, waar Josef hulle bedien. Waar hulle beide drome ontvang een aand, is hulle nou ver verwyderd van geleentheid om dit uitgelê te kry. GOD LAAT DIT DUIDELIK HIER DEUR JOSEF SPREEK: Die uitlê van die drome is ‘n saak in God se hand – die toekoms is God s’n. En daarom neem Josef vrymoedigheid om met hulle daaroor te praat. Tog beleef Josef daarna ‘n besondere laagtepunt as hy die gunstige uitleg aan die skinker se drome gee en hy vra vier dinge van die skinker; omdat hy skielik twyfel in sy toekoms: 1)Onthou my 2) Noem my 3) Tree in vir my 4) Red my [uit die gevangenis] Dit, terwyl hy moet berus in God se goedertierenheid wat op hierdie stadium nog al die pad by hom was. CHRISTUS TREE VIR ONS IN MET DIE VOLMAAKSTE REGSGRONDE: SY BLOED [let wel:woorde vir onthou en noem is bykans dieselfde in Hebreeus] Christus is die volmaakte Middelaar, wat ons volmaak red van die dood. Moet op prinse nie vertrou nie, by wie niemand heil kan vind! Veeleerder sing ons: Dis die God der leërmagte, troue Bondsgod van weleer! God van wordende geslagte, tot in ewigheid die HEER!
Sondag 7 Julie 2019 Erediens Skriflesing: 1 Samuel 1 Tema: God gee uitkoms in hopelose tye!