POPULARITY
Die Namibiese regering het ‘n beleid oor internetverbinding wat fokus op die bereiking van universele toegang tot inligting- en kommunikasietegnologieë, insluitend breëbandinternet, vir alle burgers. Die plaaslike veselnetwerk is besig om uit te brei met nuwe spelers wat die bedryf betree. In 2019 het RocketNet die industrie betree om Namibiërs te bedien wat geen veselverbinding het nie. Kosmos 94.1 Nuus het met Xander Erasmus, die stigter van RocketNet gesels.
Die Namibiese polisie sê hy het alle leidrade in verband met die sewe sitplek taxi en die vermoedelike poging tot ontvoering van ‘n leerder by die Moses Garoëb-skool in die hoofstad vroeër die week opgevolg. Daar is geen inligitng nie. Die woordvoerder van die mag, adjunk-kommissaris Kauna Shikwambi het weer die publiek gemaan om eerder klagtes by die polisie aan te meld as om sake om sosiale media te deel.
Die Namibiese polisiemag het kennis geneem van gerugte wat op sosiale media versprei word oor verdagtes in 'n sewesitplek-voertuig wat glo kinders ontvoer het. Die polisie sê in 'n verklaring dat hulle dit ondersoek. Die publiek word aangemoedig om nie te spekuleer oor ongeverifieerde inligting nie, of dit te skep en versprei nie, want dit kan paniek veroorsaak. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met inspekteur-generaal Kauna Shikwambi, adjunk-kommissaris van NamPol, wat sê die mag is op die grond by skole.
Die Namibiese weerdiens verwag dat ligte reën vandeesweek sal voorkom met die oostelike dele, en die suide wat ook neerslae sal ontvang. Kosmos 94.1 Nuus het met Odillo Kgobetsi van die diens gesels.
Die Namibiese mededingingskommissie het die Vortex Holdings Namibia se verkryging van die oorblywende belang van 50 persent in Roots Abattoir Enterprises, 'n hoender-verwerkingsonderneming, goedgekeur. Die kommissie het bevind dat dit nie mededinging in die mark negatief sal beïnvloed nie, aangesien die ondernemings in verskillende markte werk en nie werksverliese tot gevolg sal hê nie. Die ooreenkoms sal na verwagting werkskepping moontlik stimuleer, deur verhoogde produksie. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met Dina Gowases, die kommissie se woordvoerder.
Die Namibiese weerdiens verwag weer reën vandeesweek met die oostelike dele wat ook neerslae sal ontvang. Temperature sal ook styg maar wel in lyn met die tyd van die jaar. Kosmos 94.1 Nuus het met Odillo Kgobetsi van die diens gesels.
Die Namibiese mediawerkers-vakbond, Nampu, prys president Netumbo Nandi-Ndaitwah vir die herbevestiging van mediavryheid tydens haar eerste kabinetsvergadering. Sy het die media as 'n belangrike vennoot in demokrasie en nasionale ontwikkeling erken, en die belangrikheid beklemtoon dat joernaliste sonder vrees kan werk. Die vakbond dring aan op die beskerming van joernaliste teen intimidasie en vra vir billike toegang tot inligting, asook deurlopende betrokkenheid tussen die regering en die media. Nampu se waarnemende sekretaris generaal Jemima Beukes het meer.
Die Namibiese ekoloog dr. Peter Cunningham sê die COP-klimaatberade maak geen wesentlike verskil nie en dien nie meer hul doel nie. Cunningham het reageer op nuus dat ‘n nuwe hoofweg met vier bane wat vir die COP30-klimaatsberaad in die Brasiliaanse stad Belém gebou word, deur tienduisende hektaar beskermde reënwoude in die Amasone loop. Ontbossing weerspreek juis die doel van klimaatsberaad.
Die uitslag van die verkiesings in Duitsland kan die 18 miljard Namibiese dollar-gesamentlike verklaring tussen Namibië en Duitsland oor die 1904 tot 1908 volksmoord beïnvloed. In 2021 het Duitsland 1,1 miljard euro belowe vir ontwikkeling in die geraakte gemeenskappe. Die ver-regse AfD-party, wat tweede in die verkiesing gekom het en die erkenning van koloniale skuld teëstaan, kan pogings om die ooreenkoms te finaliseer bemoeilik. Die gesamentlike verklaring, wat deur meeste van die geraakte gemeenskappe verwerp is, sou voor Maart vanjaar onderteken word, maar die toekoms daarvan is duister. Die Namibiese politieke kommentator dr. Henning Melber, navorsingsdirekteur by die Scandinavian Nordic Africa Institute, sit sy siening uiteen.
Die Namibiese polisiemag in die Kunene-streek het in 2024 altesaam 2 683 kriminele sake aangemeld. Die hoof van misdaadondersoeke in die streek, adjunk-kommissaris Eric Clay, het aan die New Era dagblad 'n verslag gegee oor die misdade wat meestal in die streek gepleeg word. Diefstal van waterpompe is 'n nuwe probleem.
Die eskalerende dispuut tussen Amerika en Suid-Afrika het kommer oor Namibië se ekonomie laat ontstaan, met die Bank van Namibië se goewerneur Johannes !Gawaxab wat waarsku oor moontlike destabilisasie. Die Namibiese dollar is gekoppel aan die Suid-Afrikaanse rand, wat dit kwesbaar maak vir fluktuasies, veral as Amerika dalk Suid-Afrika uit die Agoa-handelsooreenkoms skop. Kosmos 94.1 Nuus het met die plaaslike ekonoom Josef Sheehama gesels oor hoe ons invoere uit SA beïnvloed kan word as pryse in die buurland styg.
Die Namibiese druiwebedryf maak staat op water van die Oranje-rivier maar volgens die nuutste hidrologiese bulletin van die week vertoon die Oranje-rivier vlakke van Blouputs en Sendelingsdrif redelik swak. Die vlakke staan tans onderskeidelik op minder as 0,34 en 0,19 meter. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met Pauline Mufeti, die hoof hidroloog van die Namibiese Hidrologiesedienste. Sy sê Suid-Afrika beheer die vloei.
Die Namibiese polisie bevestig twee is dood in Saterdagaand se gewapende roof by Namdia in die hoofstad. Lede van die polisie, die spesiale reserwemag, G4S en ander sekuriteitspersoneel was op die toneel. Yanna Smith het meer.
Die Namibiese polisie het in Desember 308 000 kilogram dagga, 10 031 Mandrax-tablette, 307 eenhede crack-kokaïen en 8 859 gram kokaïen-poeier gekonfiskeer. Daar is 126 verdagtes gearresteer met 118 Namibiërs, vier Angolese, een Suid-Afrikaner, twee Zambiërs en een Tanzaniër. Volgens die voormalige dwelmhoof by die polisie Hermie van Zyl, is die syfers beduidend van handelaars wat voorraad opbou vir Desember.
Die Namibiese finansiële stelsel bly stabiel, gesond en veerkragtig ten spyte van globale en plaaslike makrofinansiële onsekerhede. Die Bank van Namibië se Makropudentiële Oorsigkomitee risiko's het kwesbaarhede beoordeel en bevestig dat die bank- en nie-banksektore voldoende kapitaal- en likiditeitsbuffers handhaaf. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met Naufiku Hamunime, die bank se waarnemende direkteur van strategiese kommunikasie en internasionale betrekkinge, wat meer inligting gee.
Die 56ste SAOG parlementêre forum se voltallige vergadering is tans aan die gang in Livingstone, Zambië, waar lede verslae hersien en oorweeg vir aanvaarding deur verskeie staande komitees. Die Namibiese afvaardiging word gelei deur die Speaker van die Nasionale Vergadering, prof. Peter Katjavivi. Die voltallige vergadering, wat Maandag begin het, sluit vandag af. Namibiese parlementslid, Utaara Mootu, het bygedra tot die Mosie vir die Aanneming van die Verslag van die Staande Komitee oor Geslagsgelykheid, Vrouebevordering en Jeugontwikkeling.
Die Namibiese polisie het ‘n nuwe slenter ontdek. Slagoffers word geteiken oor ‘n belofte van ‘n erfporsie in die buiteland en word dan toegang tot ‘n internasionale bankrekening gegee om betaling te maak vir die afhandeling van die erfporsie voordat dit oorbetaal word. Die polisie-woordvoerder adjunkkommissaris Kauna Shikwambi sê die mag word oorval deur klagtes. Sy het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat.
Die Amerikaanse dollar het geleidelik versterk ná Donald Trump se verkiesingsoorwinning, wat byna al die winste uitgewis het wat die Suid-Afrikaanse rand, en dus die Namibiese dollar, vanjaar behaal het. Die Namibiese dollar verhandel tans teen 18,13 vir 1 Amerikaanse dollar, vergeleke met koerse ver onder 18 dollar voor die dollar se oplewing. Hierdie ontwikkeling sal na verwagting ekonomiese implikasies hê, veral op brandstofpryse en inflasie. Kosmos 94.1 Nuus het met die Suid-Afrikaanse ekonoom Dawie Roodt gesels oor die bewegings van die Amerikaanse dollar. Hy sê dis nie goeie nuus nie.
Bouwerk het begin aan 'n 20 megawatt sonkragaanleg by Otjiwarongo, ten volle besit deur Solarcentury Africa. Dit sal die eerste volledig handelaar-onafhanklike kragprodusent in Suider-Afrika wees. Al 51 Gigawatt-uur se jaarlikse uitset sal in die Suider-Afrikaanse Kragpoel verkoop word, 'n netwerk van Suider-Afrikaanse elektrisiteitsmaatskappye. Die Namibiese kontrakteur Alensy Energy Solutions bou die aanleg, en ingebruikneming word vir die derde kwartaal volgende jaar beplan. Solarcentury Africa se uitvoerende hoof, Jason De Carteret, het oor die projek gepraat by die sooispit geleentheid in Otjiwarongo.
Die Namibiese weerkantoor het die week gesê die reënseisoen kom aan en dat bogemiddelde reënval vir die sentrale en noordelike dele van die land vandeesmaand voorspel word. Boere in die Suide sal ondergemiddelde reënval ontvang. Boere in die noordwestelike dele, soos rondom Kamanjab het groot uitdagings op die oomblik maar, soos oud NLU-president en Kamanjab-boer Piet Gouws sê, bly hulle positief en hoopvol.
Die Namibiese polisie sê hy het kommer oor die hoë getalle voetgangers wat in ongelukke betrokke is. Vanaf 1 Januarie tot 30 September vanjaar is 92 voetgangers dood regoor die land. Oshana het die hoogste syfer op 15. Daar was 696 voetgangers wat in ongelukke beseer is in dieselfde tydperk met Khomas wat eerste geplaas is op 313. Kosmos 94.1 Nuus het met adjunk-kommissaris Eric Clay van die Hardap-streek gepraat. Hy sê daar is ook probleme in die streek.
Die Namibiese regering belowe reeds jare dat elke landsburger toegang sal hê tot toiletgeriewe. In die eerste Harambee-welvaartsplan het oudpresident Hage Geingob beloftes gemaak om die tekort teen 2017 uit te wis, wat weer herhaal en verleng is. Die jongste sensus-uitslae toon dat vordering uiters traag is. Teen 2020 het 47 persent van die bevolking steeds geen toegang tot toilette gehad nie. Daardie syfer staan nou op 40 persent. Die statistikus-generaal Alex Shimuafeni het die syfers vanoggend bekend gemaak.
Geslagsgebaseerde geweld bly 'n uitdaging in Namibië. Die Namibiese polisie het toenames in gesinsgeweld, seksuele aanrandings en ander vorme van hierdie geweld aangeteken. In reaksie hierop het die regering en verskeie organisasies bewusmakingsveldtogte, wetgewende hervormings en gemeenskapsprogramme van stapel gestuur om die krisis te bekamp, maar die probleem duur voort. Zack Itodo, 'n toegewyde voorspraakmaker vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld, het met Kosmos 94.1 Nuus gesels en sê in baie gevalle is slagoffers hul eie grootste vyande want hulle meld nie sake aan nie.
Die Namibiese polisie in die Omaheke-streek is op soek na 'n man wat na bewering 'n tweejarige dogtertjie verkrag het. Volgens die naweek-misdaadbulletin het die gru-daad hom omstreeks 11-uur Saterdagaand by die Kanaan A. Epako-nedersetting in Gobabis afgespeel. 'n 13-jarige meisie wat saam met haar ouers by die bure televisie gekyk het, het huis toe gegaan om te slaap. Toe sy die hut binnestap, het sy die man betrap wat na bewering besig was om die kleuter te verkrag. Die man, wat bekend is, het gevlug. Die slagoffer is na die Gobabis-staatshospitaal geneem. Reaksie is ontvang van die sosiale aktivis Linda Baumann.
Deurwinterde Springbok-ondersteuners deins glad nie daarvan terug om tot middernag wakker te bly om hulle helde te ondersteun nie wanneer hulle in die Rugbykampioenskap in Santiago teen Argentinië speel. Die wedstryd begin om 11-uur vanaand en ʼn plek in die rekordboeke is op die spel. Indien hulle wen, en dit word wyd en syd verwag, sal die Bokke slegs die tweede keer in hulle geskiedenis die titel inpalm, sedert die Drienasies in 2012 tot die Rugbykampioenskap herdoop is toe Argentinië bygevoeg is. Hulle het die Kampioenskap laas in 2019 verower. Die Namibiese rugbylegende Hakkies Husselman glo die Bokke sal wen.
Die Namibiese polisie in die Kunene-streek het 'n vergadering met boereverenigings en plaaslike boere by die Outjo-gemeenskapsaal gehou om veediefstal, stropery en ander misdade wat die Kunene-, Outjo- en Otjozondjupa-streke raak, aan te spreek. Volgens sommige boere was die vergadering produktief, met besprekings wat gefokus het op die uitdagings wat beide partye in die gesig staar en potensiële oplossings. James Nderura, die Kunene-streekpolisiebevelvoerder , het die uitkomste en die pad vorentoe in 'n onderhoud met Kosmos 94.1 Nuus gedeel.
Die Namibiese polisie sal môre met boere in die Kunene-streek vergader. Die vergadering wat om 11-uur by die Outjo-gemeenskapsaal op die dorp plaasvind, sal misdaad onder die loep neem. Die streek se bevelvoerder kommissaris James Nderura het met Kosmos 94.1 Nuus gesels.
Onwettige visvang in die noordoostelike riviere van die Zambezi- en Okavango-streke is 'n groot uitdaging. Die Namibiese polisie in die Zambezi-streek het verskeie waarskuwings uitgereik teen onwettige visvang deur beide buitelanders en Namibiërs. Die vissermanne vang nou snags met nette vis en die regering het nie die vermoë om die misdaad te bekamp nie. Vissermanne is ook gewapen en word al hoe gevaarliker. Kosmos 94.1 Nuus het gesels met Mark Paxton van Shamvura-kamp by die Okavangorivier, wat sê die situasie het nie verander nie en nette is oral beskikbaar.
Die Namibiese para-atlete presteer altyd uiters goed al het hulle nie altyd al die aandag nie. Die land het sy eerste medalje by die Paralimpiese Spele gewen toe Lahja Ishitile die goue medalje in die 400-meter T11-eindstryd vir vroue in 'n rekordtyd verower het. Sy het met haar gids, Sem Shimanda gehardloop. Johannes Nambala het agste gekom in die T13 100-meter finaal en gaan ook aan die 400-meter deelneem. Chris Kinda en Ananias Shikongo het onderskeidelik tweede en derde in hul uitdunne in die eerste ronde van die T11 400m vir mans gekom. Die Paralimpiese span se hoofafrigter, Letu Hamhola, sê die atlete gee altyd hulle beste en verdien baie meer
Die Namibiese regering het verskeie inisiatiewe geïmplementeer om die lewensbestaan van sy burgers te verbeter, met swart ekonomiese bemagtiging wat sekerlik een van die belangrikste is. Dit is ingestel om ongelykhede aan te spreek en ekonomiese deelname onder voorheen benadeelde gemeenskappe te verbeter. Vrae ontstaan egter oor die doeltreffendheid daarvan, veral in terme van werkskepping en die rol daarvan om werkloosheid aan te spreek. Kosmos 94. Nuus het met Imms Nashinge, IPC-woordvoerder, gepraat wat sê hy het meer vrae oor waar die land is ná 34 jaar van onafhanklikheid.
Reaksie word ontvang op die verlaging van die plaaslike repokoers na 7,5 persent. Die Namibiese repokoers is nou 75 basispunte laer as Suid-Afrika s'n wat ‘n impak op plaaslike beleggings kan beteken. Kosmos 94.1 Nuus het met die Suid-Afrikaanse ekonoom Theo Klein, van Oxford Economics Africa, gesels.
Die Namibië-Zambië Gesamentlike Kommissie oor Verdediging en Sekuriteitsake het by 'n vergadering aangekondig dat hulle steeds bekommerd is oor oorgrensmisdaad. Die misdade gaan onverpoosd voort weens die poreuse aard van die grens tussen die twee lande. Daar is ook nie genoeg polisie-beamptes om die grens te beveilig nie. Die Namibiese verdedigingminister, Frans Kapofi, het by die vergadering die misdade wat gereeld voorkom uiteengesit.
Die Namibiese vee-identifikasie en naspeurbaarheid-stelsel, NamLITS, gaan van 23 tot 27 Augustus nie werk nie weens geskeduleerde instandhouding. Geen NamLITS dienste sal by kantore van die direktoraat veeartsenykunde en die Lewendehawe- en Lewendehawe Produkte-raad landswyd beskikbaar wees nie. Kosmos 94.1 Nuus het gesels met Simon Nghipandulwa, die landbouministerie se woordvoerder, wat meer inligting deel oor watter produkte en dienste geraak gaan word.
‘n Groot frontale stelsel kom oor die naweek in die Wes-Kaap en die Suide van Namibië aan met baie koue toestande wat verwag word. Die Namibiese weerdiens het ook ‘n waarskuwing aan boere gerig. Kosmos 94.1 Nuus het met Richard Nashikaku van die diens gesels.
Soos Namibië, is Amerika geskeduleer om verkiesings in November te hou, wat moontlik verdere wisselvalligheid na globale markte kan bring. Dit is weens president Joe Biden se besluit om aan die presidensiële verkiesingswedloop te onttrek, en 'n moontlike tweede Donald Trump-presidentskap maak baie mense senuagtig. Ondanks die onsekerheid gaan wêreld-aandele voort om nuwe hoogtepunte te bereik, namate markte rentekoersverlagings begin inprys, sê Cirrus in sy jongste verslag. Die Namibiese aandelebeurs het die jaar stadig begin nadat dit verlede jaar met 42,3 persent gestyg en ongelooflike opbrengste gelewer het. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met Amy Walters, 'n finansiële ontleder by Cirrus, oor die vooruitsigte vir die plaaslike aandelebeurs.
Die Windhoek Bier Welwitschias het 37-22 teen Portugal op die Hage Geingob-stadion verloor. Die wedstryd, wat goed ondersteun was, was teen halftyd 17-13 in Portugal se guns. Die Namibiese kaptein, Danco Burger het na die wedstryd met Sport Wrap gepraat.
Die Namibiese parlement het die Wetsontwerp op Toegang tot Inligting aanvaar en bekragtig. Die wetsontwerp is op 28 Desember 2022 in die staatskoerant gepubliseer. Dit is egter steeds nie geïmplementeer nie. Namibië sluit by 25 Afrika-lande aan wat hierdie wette het, maar slegs drie lande het dit suksesvol geïmplementeer. Die wetsontwerp het ten doel om die publiek vrye toegang te gee tot inligting wat deur openbare entiteite word, en om openbare en private entiteite te dwing om inligting proaktief en stiptelik beskikbaar te stel. 'n Verteenwoordiger van die Kantoor van die Ombudsman, Ingrid Husselmann, deel hoe deurslaggewend die wetsontwerp is.
Die Padfondsadministrasie sê die implementering van 'n tolstelsel is nodig om sy finansieringsgaping aan te spreek. Die administrasie se uitvoerende hoof, Ali Ipinge, sê hulle sal binnekort slegs 60 persent van die vereiste paaie-instandhouding oor die volgende vyf jaar kan finansier. Geïdentifiseerde moontlike tolpaaie kan volgens hom sowat 5,8 miljard Namibiese dollar se inkomste genereer. Die PDM se skadu-finansminister, Nico Smith, praat met Kosmos 94.1 Nuus oor hul kommer oor 'n tolstelsel.
Die Namibiese polisie sê die liggaam van ‘n man is vanoggend ontdek waar hy aan 'n hoëspanningstaal elektriese lyn in Windhoek se Mahatma Gandhistraat tussen Khomasdal en Katutura. Inspekteur Silas Shipandeni van die Khomas-polisie het meer.
Die Namibiese repokoers staan tans op 7,75 persent en sal heel waarskynlik eers in die tweede kwartaal van volgende jaar begin daal. Die huismark is gedemp en die vraag is of dit gaan voortduur, en of daar 'n oplewing sal wees met internasionale beleggers wat die eiendomsmark betree as gevolg van die opkomende olie-, gas- en groenwaterstofbedrywe. Kosmos 94.1 Nuus het met Halleluya Ndimulunde, 'n ekonoom by Simonis Storm, gesels.
Antimikrobiese weerstand hou 'n groot bedreiging in vir mense, diere en omgewingsgesondheid, asook die landbousektor. Daar is toenemende druk op die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) om die gebruik van antibiotika te reguleer. Die Namibiese regering oorweeg tans streng beheermaatreëls oor die gebruik van antibiotika, wat ook plaasdiere insluit en wat derhalwe ‘n impak kan hê op veeprodusente. Dr. Lee-Monique Anderson, 'n veearts by die sentrale veearts laboratorium, sê hulle interaksies met boere skiet tekort en dit is moeilik om bewusmaking oor die kwessie uit te brei.
Die Namibiese regering sluit by die wêreld aan om Internasionale Meisies in IKT-dag te vier met die tema: "Leierskap". Hierdie dag beklemtoon die kritieke behoefte aan sterk vroulike rolmodelle in die velde van Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde, oftewel STEM. Dit het verder ten doel om bemagtiging en leierskapontwikkeling te bevorder, wat die weg baan vir 'n meer regverdige toekoms in hierdie velde. Emma Theofelus, minister van inligting en kommunikasietegnologie, sê dit is van kardinale belang om die jonger generasie vroue vanaf die voetsoolvlak te inspireer en toe te rus om die STEM-velde te betree.
Die brandstofpryse het om middernag gestyg, weens verskeie faktore, soos groot onderverhalings in beide die petrol- en dieselpryse. Die Namibiese dollar het ook teenoor die Amerikaanse dollar verswak. Verder is die Namport-heffing met 2 sent verhoog, van 4,2 tot 4,4, omdat dit jaarliks verhoog word. Kosmos 94.1 Nuus het gesels met Abednego Ekandjo, petroleum-ekonoom by die energie-ministerie, wat verduidelik wat die Namport-heffing is.
Informele nedersettings en plakkerskampe het sedert onafhanklikheid tot en met amper 40 persent van huishoudings gegroei. Dit was op ongeveer 3 persent in 1990. Die Namibiese verteenwoordiger van die aanlyn-eiendomsmaatskappy House48 Hub, Namene Kalili sê die koste om aan die agterstand te voldoen beloop miljarde. Hy het by ‘n geleentheid gepraat wat deur die ekonomiese publikasie The Brief gereël is.
Die Namibiese burgerlike samelewing-organisasies het die verslag oor Namibië se voldoening aan die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte aan die VN se Menseregtekomitee voorgelê. Die verslag maak melding van talle oortredings en risiko's en is onlangs aan die VN se Menseregtekomitee voorgelê. Namibië was een van sewe lande wat verslae ingedien het. Kosmos 94.1 Nuus het met Frederico Links van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing gesels...
Die Namibiese weermag beplan om 1 400 tot 1 600 nuwe lede te werf. Dit is onthul in 'n brief wat die lynministerie aan streeksgoewerneurs gestuur het. Luidens die brief is die verspreiding van nuwe lede oor die streke bepaal, met die Khomas-streek wat 141 poste toegeken het, die Ohangwena- en Omusati-streke elk 119 en die oorblywende 11 streke elk 111 poste . Gemarginaliseerde gemeenskappe word ook gleuwe toegeken. Die NDF en die Namibiese polisiemag het die hoof werkverskaffer in die land geword. Herbert Jauch, arbeidskenner, gee sy mening of dit 'n volhoubare model is om werkloosheid te verlig.
Die Namibiese minister van myne en energie Tom Alweendo blyk om vasberade te wees om te verseker dat plaaslike inhoud ‘n kenmerk is van die land se nuwe olie-, gas- en groen-waterstofbedrywe. ‘n Beleid is in die verband ontwikkel. Alweendo sê dit kan dalk buitelandse beleggers irriteer maar as hulle weet wat plaaslik aangaan, sal hulle beter verstaan.
Uranium One het gereageer op die kommentaar deur die Stampriet Aquifer Uranium Mining Association, of Sauma, wat bekommerd is oor die omgewingsimpakstudie vir in situ loging van uraan. Die Namibiese filiaal van Uranium One, Headspring Investment het die studie uitgevoer vir 'n proefaanleg op die plaas Tripoli, en dit is oop vir kommentaar. Riaan van Rooyen, kommunikasie konsultant van Uranium One, het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat.
Die Namibiese adjunkpremier Nandi-Ndaitwah het haar kommer uitgespreek oor die dalende invoere van Russiese koring deur die Namibiese privaatsektor. Sy het tydens 'n vergadering met haar Russiese eweknie Yury Trutnev beloof om die kwessie aan te spreek. Namibië voer tradisioneel koring vanuit Rusland in en privaatmeulenaars verwerk dit plaaslik. Kosmos 94.1 Nuus het met Ian Collard, die hoof van Namib Mills Investments Group, gepraat oor hoekom meulenaars nie soveel koring van Rusland bestel nie. Hy verduidelik.
Die Namibiese adjunkpremier Netumbo Nandi-Ndaitwah het met haar Russiese eweknie Yury Trutnev vergader as deel van die Rusland-Namibië Inter-regeringskommissie, wat besprekings oor handel, belegging en samewerking bevat het. Nandi-Ndaitwah het haar kommer uitgespreek oor die dalende invoere van Russiese koring deur die Namibiese privaatsektor en beloof om die kwessie aan te spreek. Namibië voer tradisioneel koring vanuit Rusland in en privaatmeulenaars verwerk dit plaaslik. Landbou-kenner Wallie Roux meen die privaatsektor het verskeie faktore wat hy in ag moet neem voordat hy koring koop, maak nie saak van watter produsent nie.