Welkom by Radio Scriptura. 2 Timotheus 3:16,17 sê die hele Skrif is deur God ge-asem. Op hierdie Gereformeerde potgooi wil ons vanuit die Skrif leer, weerlê, reg wys en onderrig, sodat God se mense volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

Wat is die uitdagings vir bejaardes in vandag se vinnige lewensstyl? Heelwat bejaardes vereensaam wanneer hul wederhelftes sterf, en hul kinders die huis verlaat. Hoe kan ons hulle bystaan met die moeilike aanpassing van afskaal en nuwe lewensomstandighede, vanweë hul spesifieke behoeftes of gesondheidsuitdagings? Hoe kan ons hulle steeds in ons kerke, en in ons gemeenskappe betrokke hou en verwelkom? Hoe kan ons hul eensaamheid verlig en hulle ondersteun in hul ou dae? Wat sê die Skrif oor ons seniors en ons ouers, en hoe moet ons hulle versorg?

Hoe lyk die werklikheid van vaderskap in ons huise? Doen ons die nodige om ons kinders te begelei en ons seuns as manne van God te herder, op te voed en te ondersteun in al die verskillende fasette van hul lewe en geestelike groei? Maak ons moeite met ons kinders, of laat ons daardie werk maklik aan ons vrouens oor as dit te emosioneel of geestelik van aard is? Staan ons die bybelse mandaat af aan diegene wat gretig is om ons kinders af te rokkel, negatief te beinvloed, en die verskriklike groot gaping met wêreldse invloed te vul? Wie het die gesin en die opdrag vir vaders as die hoof van hul gesinne ingestel? Hoekom verbrokkel die gesin en word kinders goddeloos en afvallig van God die Vader? Hoe kan ons werklik gehoorsaam en verantwoordelik in die rol van vaderskap begin staan? Hoe draai ons die groot krisis van vaderloosheid om in Suid-Afrika, sodat ons God kan verheerlik, en ons kinders die voorreg het om Hom as vader te leer ken en te dien?

Wat beteken dit om vir God te vra "lei ons nie in die versoeking nie", en wat is die wanbegrippe daar rondom? Versoek God dan mense tot sonde, of hoe moet ons hierdie teks lees en verstaan? Wat was Jesus se oorspronklike bedoeling met die woorde? Is daar 'n verskil tussen beproewing en versoeking?

Die voorsitter van die CRL - raad vir die regulering en beskerming van kulturele, godsdienstige en taalinstellings - het in Januarie 2026 bedank, omdat hy nie kan saamleef met die wete dat die staat kerke, predikante en die christelike geloof wil beheer en reguleer nie. Wat staan christene te doen? Huigelary vier hoogty, want die staat toon geen medelye of teenkanting teen die terroriste aanvalle en massamoorde op Iran se onskuldige burgers nie, terwyl daar wel ondersteunend vir goddeloses, vervolgers en verdrukkers opgetree en berig word. Wat staan die kerk te doen?

Mag en moet daar konflik in die kerk wees? Hoe moet ons dit in die huisgesin van God hanteer? Wat is ons verantwoordelikhede teenoor God heel eerste, en teenoor ons broers en susters in die kerk? Kan ons bekostig om die waarheid op die altaar van vrede te offer? Watter groei sal daar dan wees? Moet ons konflik ten alle koste vermy in die kerk ter wille van die aanvaarding van mense, of moet ons die waarheid van God se woord heel eerste stel? Is God se vrede dieselfde as wêreldvrede? Wat dryf vrede in die kerk? Vier aspekte van konflik in die kerk is onder bespreking: - Wie se huis is die kerk? - Is alle konflik verkeerd? - Wat is elke lidmaat se verantwoordelikheid? - Hoe behoort ons konflik in die huisgesin van God te hanteer?

Ons beleef 'n aktiewe invloed van sekularisme op sosiale media, en ons kan die verwoesting wat die "virtuele god" in ons samelewing aanrig, duidelik sien in die siek geestestoestand van ons jong mense. Waarom raak ons kinders verslaaf aan aanlyn speletjies en sosiale media? Kan dit wees dat hulle verhonger is? Spandeer ons genoeg persoonlike, kwalieit tyd met hulle? - Hoe beinvloed sosiale media ons kinders se normes, waardes en geloofsoortuiging? - Wat is die invloed daarvan op ons kinders se denke, speeltyd en wêreldbeskouing? - Kan jy kies wat vir jou kind gevoer word, en het jong kinders daardie wysheid en insig in pag om positiewe sosiale media te kies? - Watter rol speel tegnologie en sosiale media op kinders se selfbeeld, verhoudings, sosiale - vaardighede en geestesgesondheid? - Het sosiale media beheer oor jou en jou kind, en hoe vorm dit jou kind fisies, emosioneel en sosiaal? - Wat is die wesenlike gevare van te veel sosiale media? - Hoe kan ons balans vind en riglyne instel, ten einde ons gesin se veiligheid te bewaak

Wat is die tema en konteks van die boek 1 Thessalonisense? Wat staan in die gedeelte voor die teksvers? Gaan die vers oor die toets van lekker dinge en versoekings van die lewe, of oor die meet van die geestelike gawes van christene aan die Woord van God? Leer die Bybel ons om die versoekings van hierdie lewe uit te toets, of om pro-aktief sonde teen te staan? Daar bestaan twee strome van dwaling oor die 1 Thessalonisense 5:21. Een is om die ervarings en versoekings van die aardse bestaan uit te toets vir menslike genot, en die ander dwaling is oor die gawes van die Heilige Gees. Die woord was nog in verbale vorm oorgelewer en oorvertel aan die heidene in daardie tyd en konteks, en Paulus het mense vermaan om hul lewe en hul gawes aan die Woord van God te meet. Die toets en beproef van vleeslike genot is geensins die bedoeling van die teks nie, maar om sonde teen te staan, is wel.

Wat 'n voorreg om terug te kyk op 2025! Die jaar het so baie op gelewer en so vinnig verby gevlieg, maar die Scriptura span het reekse en episodes gepubliseer wat ons eie verbeelding oortref het. AAN GOD AL DIE EER, want in werklikheid was dit episode vir episode, 'n groot genade. En alles het uitgewerk soos dit moes, en ons is baie dankbaar dat die ses broers in die Here al vir 'n volle agt jaar elke week saam gesels oor die Woord van ons wonderlike God. Die bediening bereik duisende mense regoor die wereld, want God het dit so laat gebeur. Hy gebruik nederige mense om Sy evangelie van redding wêreldwyd te versprei. En dit het 'n baie positiewe impak op die predikers en aanbieders self, en op die luisteraars, asook op die werkers in die agtergrond meegebring. Ons bedank elkeen wat geluister en gekyk het, en die episodes met vriende en familie gedeel het, want dit is ook natuurlik die uitvloeisel van die aanraking van die Woord van God in elke hart. Die liefde van God is soos 'n vuur en dit steek harte aan die brand, en ons kan dit nie vir onsself hou nie. Bid asseblief vir die volgehoue en getroue verkondiging van die Here se kosbare woord, en vir die bediening om voort te gaan om nog meer mense te bereik vir God se koninkryk.

'n Luisteraar vra: "Sondag is God aangespreek as God die Vader, en God die Moeder. Is dit bybels, of is dit laster, en is dit aanvaarbaar?" Is God tweeslagtig? Mag ons God se persoon as sy, haar, moeder, vroulik, vrou en moeder aanspreek? Kan ons toelaat dat feministiese denke ons kultuur en ons aanbidding kaap? Is dit aanvaarbaar as mense dit doen, of is dit totaal onbybels en godslasterlik? As hierdie dwaling in jou kerk plaasvind, kan jy hulle oproep tot die waarheid, of 'n bybelse kerk soek?

Scriptura gesels oor wanbesteding en skuld, natuur- en wildbewaring kwessies, en laastens ook oor die G20 konferensie se skynheilige voorhou dat ons huis in order is voor die wêreld.

Wat is die misverstande en dwaalleer van die vers ten opsigte van die water, die doop en die Heilige Gees? Daar is groot hoop vir die mens in Handelinge 2:38, en meer nog in die vers wat volg: " .... die belofte kom julle toe en julle kinders ..." Kan ons geloof vir onsself in ons eie harte bewerkstellig? Wat is dan nou werklik die gawe van die Heilige Gees? Kry ek dit saam met my doop, of moet 'n ander persoon dit eers oor my afbid? Hoekom doop gelowiges hul kinders? Moet hulle nie eers in God glo voordat hulle gedoop kan word nie?

Hoe word Spreuke 4:23 misverstaan? Wat is wysheid en dwaasheid volgens God se woord? Benader ons dalk hierdie vers vanuit 'n obsessiewe selffokus en piëtistiese denkraamwerk, wat emosies bo God se wysheid verplaas en liewer 'n heilige lewe beklemtoon? Watter tipe literatuur is Spreuke, en wat is die konteks van hierdie spesifieke vers? Hoe kan ons nog staatmaak op die emosies van ons harte as dit dan 'n onheilige natuur het? Wat is ons verantwoordelkheid ten opsigte van ons denkwêreld en ons blootstelling?

Wat word regtig bedoel met Kolossense 1:15 - "Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping …"? En wat is die algemene waninterpretasies van groepe soos die Jehova getuies en die Moslems oor die person van Jesus Christus? Is Hy net die beeld van God, en is Hy die letterlike eersgebore van die skepping soos ons dit vleeslik sal voorhou? Is Hy 'n skepsel, of is Hy God, en een met God en die Heilige Gees? Wat was die Kolossense konteks en misleiding? Hoe verstaan mense die woord "eersgeborene" verkeerd?

In Perspektief - Oktober 2025 gesels Scriptura oor ernstige nuusgebeure van die afgelope maand. Pous Leo en koning Charles III bid saam vir die eerste keer in 500 jaar, en die stryd teen die Cultural, Religious and Linguistic Rights Commission (CRL) waarmee die Suid-Afrikaanse regering poog om kerke te reguleer. En laastens het die Grootte kerk in Kaapstad 'n intergeloof byeenkoms gehou vir die geregtigheid van Palistyne wat in die oorlog in Gaza vasgevang is.

Jesus antwoord hulle: "Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos 'n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie." Watter waninterpretasies en misverstande bestaan rondom hierdie vers? Wat is die konteks en werklike boodskap? Is die geloof 'n magiese krag wat jy in jouself kan kweek of bewerk om wonders te doen soos God? Is dit 'n oproep om jou geloof in God te plaas en Sy raadsplan te vertrou? En is dit 'n uitdaging om "harder te probeer glo", sodat jy groot dinge in die naam van Jesus kan doen? Waar kom ons geloof in God vandaan? Wie is die krag van ons geloof, en wie stel ons in staat om in vertroue te volhard, al gaan dit swaar? Waar pas gebed en vas in terwyl ons ons fokus, geloof en vertroue in God plaas?

Wat is geloofs"deconstruction"? Hoekom bevraagteken mense die gereformeerde geloof? Hoe moet ons dekonstruksie benader en mense daaruit help? Watter rol speel postmodernisme en die gees van ons tyd hierin? Wat is die gevolge van die idees van filosowe soos Jacques Derrida? Woorde kry nuwe betekenis en word vloeibaar… waarheid word 'n vraagstuk. Wat is die verskil tussen kritiese denke en dekonstruksionisme? Is ons geloof van onlogies, of is daar bewyse vir wat ons glo? Ondersoek die Skrif en wees gereed om apologeties te antwoord oor die hoop wat ons het in Christus.

In die afgelope week het 'n amptelike brief van die Gereformeerde Kerk Nelspruit aan 'n lid van die gemeente opslae gemaak. Die brief handel oor kerklike betrokkenheid en die verantwoordelikheid wat belydende lidmate het teenoor die gemeenskap van gelowiges. In hierdie opname gesels die Scriptura-span oor die inhoud van die brief, die Bybelse beginsels agter kerklike tug en waarom ware gemeenskap in Christus nie bloot 'n formaliteit is nie, maar 'n lewende roeping.

Hoe moet ons mense wat met seksuele sonde worstel behandel en dien? Hoe kyk ons verby die skaamte en stigma, en help ons verlore siele om Christus se liefde en genade te sien? Hoe wen ons hulle vir Christus? Moet ons diesulkes vermy en verwerp, of moet ons hulle liefhê en dien met die waarheid van Christus? Hoeveel siele kos dit ons om te swyg oor die waarheid? Kan liefde sonder waarheid oor sonde regtig 'n getuienis van verlossing wees? Kan die waarheid sonder liefde mense dien soos Christus dit sou doen? Hoe moet kerkdissipline en tug teenoor lidmate en ons geliefdes lyk? Leef ons self as verlostes en getuig ons lewens van verlossing? Kategoriseer ons sondes vanweë 'n verlies aan konsekwentheid en huigelaary? Deins ons terug van die moeilike gesprekke en konfrontasies as gevolg van emosionele konnotasies of familiebande?

In 2 Johannes 1:9-10 lees ons: "Elkeen wat nie by die leer oor Christus bly nie, maar daaraan verander, erken God nie. Wie in dié leer bly, erken sowel die Vader as die Seun." Die tragiese moord op Charlie Kirk, stigter van Turning Point in Amerika, getuig van die ongelooflike goddeloosheid en hopeloosheid waarin mense hulself vandag bevind. Hy in teen deel, was iemand wat in die publieke domein die evangelie en die waarheid van God verkondig het, terwyl sy geloof ook sy politieke standpunte onderskraag het. Maar in teenstelling met die nederige getuienis van 'n getroue volger van Christus, waag verdwaalde en misleide christene dit om as selfaangestelde profete op te tree, en onbybelse uitsprake te maak in die naam van Jesus Christus. Danie Botha, eertydse Afrikaanse sanger, het die fout begaan om mense gruwelik te mislei met 'n profesie van die wegraping, te laster teen God, en 'n spektakel van die wederkoms van Christus te maak. Hy het iets wat wonderlik is, as vreesaanjaend en buite bereik van die nederiges geplaas.

Vraag 37-40 hanteer die kwessies van seksualiteit van die enkellopende, seksualiteit in die gesinslewe, asook die seksuele opvoeding van ons kinders. Hoe kan ons die gesinslewe so inrig dat dit tot eer van God voortbestaan? Wat is God se wil vir hoe ons ons kinders in geskikte seksualiteit moet opvoed? Hoe skilder ons 'n mooi beeld van seks binne die huwelik soos God dit geskape het vir ons kinders? Wat vat dit van ouers om hierdie verbondsbeloftes na te kom? Hou ons tred met die dwaling van die wêreld wat ons kinders negatief beinvloed? Hoe moet jong volwassenes hul ouers eer in hul seksuele gedrag binne verhoudings voor die huwelik?

Wat is die verskil tussen iemand wat teen seksuele sonde stry en iemand wat volhard in hul sonde? Kan mense wat in hul onheilige begeertes en seksuele sondes volhard, en hulle nie tot God bekeer nie, dan nie salig word nie? Wat is in ware bekering van alle seksuele sonde betrokke? Hoe moet mans daarna streef om hul vroue lief te hê en hul te eer? Hoe moet vrouens daarna streef om hul mans lief te hê en te eer? Hoe moet huweliksmaats mekaar in die huwelik op seksuele en intieme vlak dien?

Scriptura gesels oor die afgelope maand se nuusgebeure wat uitgestaan het, en vir baie mense 'n struikelblok kan wees in hul geloof, oortuigings en lewens. Trump is van mening dat hy hemel toe kan gaan as hy net genoeg mense kan red. Suid-Afrikaners dobbel miljoene rande weg. Kunsmatige Intelligensie word ingespan om sielkundige terapie te lewe, en 'n soort jesus figuur vir soekendes te voor te stel.

Wat is pornografie? Wat is die aard van die verslawing? Wat is die gevare en die effek van onsedelikheid op mense en verhoudings? Hoe hou dit verband met afgodery, ledigheid en onreinheid buite die huwelik? Hoe stry ons die stryd teen onsedelikheid, pornografie en homeseksualiteit ens ...?

Wat moet ons doen met ons eie sondige seksuele begeertes en sondes? Het gelowiges ook 'n stryd met seksuele sonde? Is seksuele sonde groter as ander sonde? Hoe lyk die pad van herstel vir die gelowige wat sukkel met seksuele sonde? Is dit 'n stryd van bekering, of bly ons nou maar vasgevang in sonde? Wat moet die houding van die kerk wees teenoor christene wat stry teen seksuele sonde? Wat is die rol van medegelowiges in die herstelpad? Is daar krag in die verlossing van Christus en hoe verander die evangelie ons? Hoe moet ons die stryd stry, en met watter krag?

Is die nagmaal 'n sigbare seël, of 'n misterieuse ritueel, of 'n dooie simbool? Wat is die belofte en geestelike betekenis van die nagmaal? Hoekom gebruik ons die sakrament? Hoekom het Jesus dit as 'n opdrag aan christene gegee? As die brood en die wyn nie letterlik Sy liggaam en sy bloed is nie, hoe is Christus dan teenwoordig tydens die nagmaal? Hoe verdedig ons hierdie waarheid uit die Woord en aan die hand van ons belydenisse? Hoe sien ons die drie-enigheid? Wat is Biblisisme, en hoekom het ons belydenisskrifte gesag?

Die Boland Rugby Unie hou 'n publieke gebedsdiens op 'n Sondag voor die wedstryd. Die Maryland hofuitspraak verbied die LGBTQ+ beweging om hul agenda op skoolkinders af te forseer. SA Raad vir Kerke steun op die Wêreldraad van Kerke in hul anti-korrupsie konferensie.

Watter soorte liefdesverhoudings is verkeerd in God se oë? Hoekom kan ons nie leef en lief hê soos ons wil nie? Hoekom is alle vorme van seksuele onsedelikheid onversoenbaar met ons eenheid in Christus? Hoe bevry die Evangelie ons ten opsigte van seksuele sonde?

Wat motiveer ons begeertes? Hoe werk versoekings en begeertes, en wanneer is dit sonde? Waar kom versoekings vandaan? Wat gee geboorte aan sonde, en waar gebeur dit? Kan ons in ons gedagte veilig speel met sondige denke? Sukkel ons almal met dieselfde versoekings of laste? Verwerp God slegs die begeertes wat teen Sy wet is, of net die daadwerklike oortreding van Sy wet? Is onrein gedagtes sonde, al het jy nie die dade waaraan jy gedink het, daadwerklik gedoen nie? Hoe stry ons die stryd teen sondige begeertes? Vrae 19 tot 22 van die kategismus van menslike seksualiteit werk deur die Skrif om antwoorde op hierdie vrae te verskaf.

Wat is die oorsprong van ons seksuele gebrokenheid? Het God ons goed of sleg geskape, en was daar fout in Sy skeppingsorde? Wat was die toestand van Adam en Eva se harte voor hul sonde? Wat was die leuen van die slang in die tuin van Eden, en hoe het dit ons menslike hart verwring? Waar kom die begrip van radikale verdorwenheid vandaan? Hoe diep en wyd is ons sonde na die sondeval? Hoe ver is ons menslike begeertes van God se begeertes af? Noudat ons weet wie ons is voor God - wat is ons troos en bevryding?

Wie het die huwelik ingestel en bepaal die orde daarvan? Wanneer en hoekom het God dit as lewenslange, monogame verbondsverhouding geheilig? Waar pas die seksuele verhouding in sodat dit God verheerlik? Waarom is die Here so ernstig oor egskeiding? Kan ons meer doen om stukkende huwelike in die kerk te herstel?

In die derde episode van die reeks gesels Scriptura oor vrae 6 tot 8, wat handel oor geslagtelikheid, transgenderteorieë, en God se skeppingsorde. Hoekom moet ons God se plan en doel met die twee geslagte vertrou? Het God enige foute gemaak met die skepping van 'n persoon se geslag, en wat het na die sondeval verkeerd geloop? Kan dit wees dat iemand in die verkeerde lyf gebore is? Wat is die gnostiese en mistieke idees oor geslagtelikheid? Is liggaam en gees veronderstel om geintegreerd te wees? Kan identiteit in geslag en geslagtelikheid gevind word?

Die Scriptura span gesels oor drie temas in vandag se perspektief: Josh Buice, stigter van die G3 Ministries is geskors oor kritiek op ander predikers, poliandrie (meer as een man) en poligamie (meer as een vrou), en die afname van aanddienste en leerdienste in die kerk. Hoekom loop kerke se aand- en leerdienste dood, en hoekom is dit so belangrik?

In episode twee van die nuwe Kategismus vir Menslike Seksualiteit, gesels Scriptura oor die skeppingsdoel en opdrag vir die mens. Die volgende vrae se antwoorde word uiteengesit: Wat is die geslagte waarmee God die mens geskape het? Wat vereis God deur ons na Sy beeld te skep, en ook hoekom het God die mens as man of vrou na Sy beeld geskape?

Wat glo die Sewendedag adventiste? Hou hulle by die waarheid van die woord van God, of is hulle vasgevang deur vreesaanjaende profesieë en visioene? Is dit 'n kultus of 'n sekte, of sommer net 'n ander manier om God te aanbid? Hoe kan ons mense antwoord oor die hoop van ons verlossing in Christus, en hoe kan ons hulle in liefde benader?

Hoekom het ons 'n kategismus vir menslike seksualiteit nodig? Hoe groot is ons seksuele sondes, begeertes, luste en dade? Kan ek seksuele sondes oorkom, bevry word daarvan en voor God rein leef? Hoekom is dit vertroostend om te weet dat ons 'n nuwe identiteit in Jesus Christus het? Wat moet ek oor menslike seksualiteit en my nuwe identiteit in Christus weet?

Scriptura gesels oor pous Francis se afsterwe en die nuwe pous Leo XIV se verkiesing. Dan word Jean Oosthuizen van Ontlaar se artikel oor radikale bevrydende humaniteit en sy "vryheid" wat wegdeins van rigiede dogmatiese geloof in die hiermaals bespreek.

Wat gebeur met jou as jy doodgaan? Is daar lewe na die dood? Verdien almal om gered te word? Wat is die eindbestemming van die gelowige en die ongelowige? Wat is die hemel en die hel, en wie heers oor dit? Wat gaan gebeur met die laaste oordeel, en vir wie is die poel van vuur?

Scriptura voer 'n tweede onderhoud met Ds Dubois du Toit van die NG kerk Suiderhof in Namibië oor die uittrede van 10 NG kerke uit die Algemene Sinode (ASM) as gevolg van afwykings van die Skrif. Die NG Kerk Namibië verwerp die waninterpretasie van die skrif, onbybelse kerkorde, homoseksualiteit, homoseksuele huwelike, humanistiese invloed en die "woke" beweging wat al vanaf 2002 die sinode besluite onbybels beinvloed het. Teologiese opleiding wat ook afwyk van die gereformeerde leer vir die afgelope 30 jaar, is nou ook onder die vergrootglas.

Hoekom praat christene met God? Waarom beveel God dat Sy kinders bid en aanbid? Wat gebeur as christene bid? Hoe en waarvoor mag ons bid? Is daar krag in gebed? Waarvoor moet ons oplet om die eer van God voorop te stel? Wat is die hoof fokus van gesprek met God eintlik?

Watter gesag het die Bybel in gelowiges se lewe? Is die Skrif net 'n handleiding met kennis en reels, of is daar iets meer wat God openbaar in Sy woord? Kan ons ooit genoeg van God se woord kry, en het ons iets meer nodig? Wat is die uniekheid van God se woord? Is dit God of mense wat die Bybel geskryf het?

"Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo in 'n heilige algmene christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges .....". Wie is deel van die liggaam van Christus? Wie is die onsigbare kerk? Het ons dalk 'n vlak beskouing van die kerk? Waar begin lidmaatskap van die kerk? Wat beteken dit in werklikheid om 'n lidmaat van die kerk te wees? Wat is die kerk vir Christus? Hoe word God se verbond sigbaar gemaak en hoe word ons geloof versterk? Hoe vorm en voed Christus gelowiges tot sy diens in die wêreld?

Wat kom eerste: geloof of wedergeboorte? Is dit noodsaaklik om wedergeboorte, herskepping, nuutskepping of dan bekering te ondersoek en te beleef om 'n christen te wees? Hoe kan ons die koninkryk van God binnegaan en die geestelike beërf? Wat is die manier waarop ons wedergebore word? Kan ons dit deur eie vermoë, intellek of deur werke bereik? Wie se werk is die wedergeboorte dan, en hoe kry mens die Heilige Gees? Is die effek van wedergeboorte dalk 'n groot stryd in jou hart? Wat is die vrug van die wonderwerk in jou?

Christene word gruwelik gemartel en vermoor in baie lande rondom ons, omdat hulle Christus as God erken, aanbid en dien. Hul vervolging is skrikwekkend! Maar roer dit ook ons harte terwyl ons nog godsdiens vryheid in Suid-Afrika geniet? Die media steur hul geensins aan die vervolging van gelowiges nie, want dit lok nie die reaksie en sensasie wat hulle najaag nie. Watter verbintenis is daar tussen die Golden Globe toekennings waartydens niemand God se hulp erken het nie, en die onlangse vervoestende brande in California? Hoe kry ons 'n gebalanseerde uitkyk op hierdie gebeure wat alles in God se soewereine hand ontvou en afspeel?

Wat (of wie) is die evangelie, en waarvan (van wie) red God ons? Het jy iets om by te dra tot jou redding? As jy die evangelie glo; wat presies moet jy glo? Is geloof kopkennis of 'n gevoel? Hang jou verlossing van jou keuse af? Wat is heiligmaking?

Waarin vind ons kennis van onsself as mens? Wat beteken dit om na die beeld van God geskape te wees? Wat is totale verdorwenheid? Drie aspekte is onder bespreking om nuwe gelowiges se basiese kennis van wie ons as mens is voor God die Skepper. Wat het by die skepping gebeur? Wat het fout gegaan kort na die skepping? Hoe is dit moontlik om die mens se verhouding met God te herstel?

Hoe glo ons in die drie-eenheid sonder om die drie-heid of die eenheid van die drie persone in die godheid te onteer? Kan ons Jesus werklik begryp sonder die Vader en sonder die Gees? Hoe kan ons hierdie dinge van God leer ken? Gaan ons glo soos Hy homself in die Woord openbaar? Is daar verlossing buite die begrip van die drie-eenheid? Wie is die sentrale waarmaker van die woord van God?

Mag ons onder enige omstandighede iets vat wat nie aan ons behoort nie, en het grondonteiening sonder vergoeding 'n bybelse basis? Wat is ons verantwoordelikheid as bewoners en rentmeesters van die aarde, en aan wie behoort dit alles? Tydens president Donald Trump se inhuldiging het die vroulike biskop, Mariann Budde, 'n teologiese oproep met 'n politieke ondertoon gedoen wat die WOKE beweging, bevrydingsteologie en feminisme duidelik ondersteun. Kan emosionele drogredenasies die ongeregtighede van humanisme laat seëvier? Daar is parallelle lyne te trek tussen hierdie twee onderwerpe. Wat is die kerk se sentrale taak teenoor regerings? Wat staan mense te doen wat hulself in die spervuur bevind van onreg wat dreig om hul lewens te verwoes? Herken ons die WOKE beweging se motiewe?

Hoe openbaar God homself aan ons? Het God beheer oor alles in die skepping? Wie is die drie persone in die Godheid en hoe kan ons dit verstaan? Kan God ooit onder verdenking wees, en waaruit vloei Sy geregtigheid? Hoekom vind ons troos in God se oordeel en in Sy genade?

Daar kom toenemend mense tot bekering wat nie in tradisionele gereformeerde verbondshuise opgegroei het nie, en die getalle van gereformeerde verbondskinders neem toenemend af. Lidmate van kerke het vandag ook nie meer dieselfde vlak van bybelkennis as vroeër nie. Die fokus van hierdie reeks is dus die kernsake van die christelike geloof. Wat is daardie kernsake van die christelike geloof volgens die apostoliese geloofsbeleidenis? Hoe lyk ons christen landskap deesdae, en wat ontbreek?

Heinz Winckler en sy vrou se vrystelling van hul konserwatiewe huwelikshandleidings by die Breytenbach Sentrum veroorsaak 'n bohaai. Hoekom daal die Gereformeerde kerk se lidmaatsyfer? Is dit immigrasie, of dat mense minder kinders kry, of word die evangelie boodskdap afgewater? Hoekom gaan gereformeerdes na ongereformeerde kerke? Het ons "nuwe idees" nodig om lidmate te trek? Wat is die Antioch Verklaring, en is christen nasionalisme 'n reaksie op die Woke beweging? Hoe moet ons die kultuur en taal krisis in Suid-Afrika vanuit 'n christen hoek benader? Wat behoort die christen se ware identiteit te wees?