POPULARITY
Die Soil of Africa-burgerlike beweging sê die onlangse uitspraak deur die hof in Pretoria oor die bestuur en administrasie van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente is baie belangrik. Die hof het die aanstelling van die Nsfas-administrateur, Hlengani Mathebula, opgeskort en die ontbinde Nsfas-raad herstel. Die beweging se woordvoerder, Luzuko Sofute, sê daar mag geen viktimisasie van studente of instellings wees weens die bestuurs- en leierskapgeskille nie:
Reaksie word ontvang op die beplande permanente sluiting van Farmers Meat Market se Mariental-slagpale, Namibië se enigste uitvoergoedgekeurde skaapabattoir. Die maatskappy sê ondanks heropening in November 2022 en groot beleggings om doeltreffendheid en markte te verbeter, het die fasiliteit opgehoopte verliese van 92 miljoen Namibiese dollar. Simonis Storm het onlangs die stilstand gekoppel aan die verlies van die Noorse uitvoerkwota en versadigde streeksmarkte. Ekonoom dr. Omu Kakujaha-Matundu sê aan Kosmos 94.1 Nuus dat regeringsingryping nodig is om dié strategies belangrike besigheid te red.
Reaksie word ontvang op die Amerikaanse Senaat se goedkeuring van 'n tweejaar-verlenging van die African Growth and Opportunity Act, of Agoa, wat belastingvrye toegang tot die Amerikaanse mark vir meer as 1 800 produkte in sekere Afrikalande tot Desember 2028 handhaaf. Terwyl Namibië se handel met Amerika relatief klein bly, sê landboukenner dr. Kobus Laubscher aan Kosmos 94.1 Nuus dat Agoa steeds waarde vir die land inhou.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê hy verskerp sy reaksie op die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo. Vier-duisend-381 bevestigde gevalle is aangemeld en 2 011 mense is aan die virus dood. Die middelpunt van hierdie uitbreking van die Bundibugyo-spesie van Ebola is in die ooste van die DRK waar onsekerheid pogings om dit te beheer, belemmer. Die WGO se streekdirekteur vir Afrika, Mohamed Yakub Janabias, sê die dodetal styg omdat mense te laat behandeling soek:
Reaksie word ontvang op die Bank van Namibië se besluit om die repokoers vanoggend onveranderd te hou op 6,75 persent. Kosmos 94.1 Nuus het met Kara van den Heever, 'n beleggingsontleder by Momentum, gepraat wat sê die besluit kom terwyl binnelandse ekonomiese aktiwiteit swak gebly het gedurende die eerste helfte van 2026, terwyl inflasionêre druk toegeneem het sedert die laaste monetêre beleidskomiteevergadering.
Reaksie word ontvang oor die wanbestuur van regeringswoonstelle, met balkonne wat na bewering in hutte omskep is en sommige eenhede wat vir privaat besighede gebruik of verhuur word. Werkeminister Veikko Nekundi vra vir strenger toesig, terwyl die politieke ontleder dr. Ndumba Kamwanyah aan Kosmos 94.1 Nuus sê dat korrupsieklagte gelê moet word teen diegene wat vir die staatseiendomme verantwoordelik is.
Reaksie word ontvang op Stad Windhoek se besluit om sy kontrak met RedForce Debt Management te beëindig en die invordering van agterstallige munisipale rekeninge weer self te administreer. Terwyl die stap verwelkom is deur die Khomas Inwoners- en Belastingbetalersvereniging, sê woordvoerder Shaun Gariseb aan Kosmos 94.1 Nuus dat die munisipaliteit moet vermy om nog 'n eksterne skuldinvorderingsmaatskappy aan te stel en eerder sy interne kapasiteit moet versterk terwyl verseker word dat die skuldinvorderingsproses deursigtig en verantwoordbaar is.
Reaksie word steeds ontvang nadat die African Youth Survey 2026 bevind het dat terwyl jong Afrikane meer optimisties oor die toekoms is sedert die Covid-19-pandemie, stygende lewenskoste, korrupsie en kommer oor regering steeds vertroue in demokratiese leierskap uitdaag. Die opname het bevind dat hoewel steun vir demokrasie hoog bly, baie jongmense glo dat Afrika sy eie demokratiese model nodig het. Kosmos 94.1 Nuus het met LPM Jeugbevelleier Duminga Ndala gepraat, wat sê jong Afrikane verloor vertroue in Westerse-styl demokrasie.
Die Namibiese verteenwoordiger by die Pan-Afrikaanse Parlement, Olivia Hanghuwo, het 'n verenigde kontinentale reaksie op xenofobie en die oorsake van migrasie versoek, en Afrika-leiers aangespoor om die waardes van solidariteit en vreedsame naasbestaan te omhels. Hanghuwo het die opmerkings gemaak tydens die debat oor die mosie rakende die toenemende xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika.
Reaksie word ontvang op vanmiddag se aankondiging dat al die brandstofpryse met 2 Namibiese dollar sal styg vanaf 5 Augustus. Kosmos 94.1 Nuus het met Kara van den Heever, 'n beleggingsontleder by Momentum gesels, wat sê totdat die situasie rondom die Straat van Hormuz weer normaal is, sal onsekerhede voortduur en verbruikers sal hul begrotings daarby moet aanpas.
Reaksie word steeds ontvang op die Fifa-hoof Gianni Infantino se kommersiële tak van Fifa, die Fifa Forward Enterprise. Die voorsitter van die Britse Sokker Ondersteunersvereniging Tom Greatrex sê Infantino het gedink hy was onaantasbaar omdat hy soveel veranderings aangebring het sonder enige teenstand. Hy het met Sky News gepraat.
Reaksie word ontvang op Namibië se diamantproduksie wat met 7 persent tot 1,09 miljoen karaat gedaal het gedurende die eerste helfte van 2026. Laer aflandige produksie by Debmarine Namibia het Namdeb se hoër produksie op land geneutraliseer. Kosmos 94.1 Nuus het met ekonoom dr. Omu Kakujaha-Matundu gepraat wat sê die wêreldwye vraag na goedkoper sintetiese diamante het gestyg, en dis 'n geleentheid om die ekonomie te diversifiseer.
Reaksie word ontvang op president Netumbo Nandi-Ndaitwah se beroep op tradisionele leiers om grond-, opperhoofskap- en opvolgingsgeskille deur gewoontereg op te los. Sy het gewaarsku dat 'n toenemende afhanklikheid van siviele howe tradisionele gebruike kan ondermyn. Politieke ontleder Ndumba Kamwanyah sê aan Kosmos 94.1 Nuus dat die opmerkings 'n kommer weerspieël oor die behoud van tradisionele instellings se gesag en relevansie. Hy het meer.
28 Julie 2026: Reaksie op die Vervolgingsgesag se besluit om strafregtelike klagtes teen die hoof van misdaadintelligensie, luitenant-generaal Dumisani Khumalo, terug te trek. Die MRK bevind dat rioolaanlegte in Oos-Kaapse metro's nie aan die voorgeskrewe vereistes voldoen nie. Die aanlynaansoekproses vir die plasing van leerlinge in Gautengse skole begin in Augusttus.
22 Julie 2026: Die Parlement se afsettingskomitee bespreek die mandaat en name van moontlike getuienisleiers. Ons praat met 'n ekonoom oor die styging in verbruikersprysinflasie. Landbou reageer op 'n moontlike sterk El Niño-weerpatroon later vanjaar.
Reaksie word ontvang nadat die Windhoek munisipale raad 'n verhoging van gemiddeld 4 persent in munisipale tariewe vanaf 1 Julie geïmplementeer het, wat dienste soos water, riolering, vullisverwydering en eiendomsbelasting raak. Kritici voer aan dat inwoners gevra word om meer te betaal ten spyte van voortdurende uitdagings met dienslewering. Kosmos 94.1 Nuus het met Joseph Kauandenge, die leier van die Vereniging vir Plaaslike Belange, of Asoli gepraat, wat sê die verhogings is onaanvaarbaar terwyl baie huishoudings reeds onder finansiële druk verkeer.
Reaksie word steeds ontvang oor die parlement se jongste reses, met kritiek wat toeneem dat wetgewers weereens verrigtinge onderbreek het terwyl belangrike wetgewing onvoltooid bly. Die parlement het op 10 Julie verdaag en sal eers op 1 September hervat, met verskeie belangrike wetsontwerpe nog nie gefinaliseer nie. Opposisiepartye sê hulle sal nie wetgewing ondersteun wat sonder voldoende ondersoek deurgejaag word nie. IPC-hoofsweep Rodrick Likando sê aan Kosmos 94.1 Nuus dat dit die hoofrede vir die vertragings is.
1 Julie 2026: Die waarnemende minister van polisie vermoed daar is 'n politieke agenda agter drukgroepe se beplande betogings elke Donderdag. Reaksie op die kabinetskommelinge. Baie koue weer met sneeu en swaar reën op pad na die suid-ooste en sentrale dele van die land.
Reaksie word ontvang oor die chaos rakende die Straat van Hormuz met onderhandelinge wat in Switserland plaasvind, en verklarings deur Iran dat die seestraat toe is met die VSA wat dit weerspreek. Olie daal ook nie noemenswaardig nie en bly rondom 80 Amerikaanse dollar per vat. Kosmos 94.1 Nuus het met Suid Afrikaanse ekonoom, Dawie Klopper gepraat. ‘n Realistiese daling sal langer vat.
Reaksie word ontvang nadat Namibië amptelik van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys verwyder is. Ekonoom dr. Omu Kakujaha-Matundu het die ontwikkeling verwelkom en die regering gelukgewens met die pogings om al die bekommernisse wat deur die taakmag geopper is, aan te spreek. Hy het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê dat die stap beleggersvertroue sal verhoog.
Reaksie word ontvang op Andy Burnham se oorweldigende oorwinning in die tussenverkiesing in Makerfield. Die plaas hom terug in die parlement en baan die weg vir hom om Keir Starmer as leier van die Arbeidersparty uit te daag. Burnham het amper 25 000 stemme gekry, amper 10 000 meer as die Reform UK-kandidaat in Makerfield. Adjunkleier van Reform UK, Richard Tice, sê die mense van Makerfield het vir Burnham gestem om 'Starmer uit te kry' so die boodskap bly dieselfde.
18 Junie 2026: Reaksie op die DA se minister-skommelinge. Nóg 'n reddingsboei om die suikerreus Tongaat Hulett te red. Meer besonderhede oor Amerika en Iran se vredesooreenkoms.
Reaksie word ontvang oor oliepryse wat vanoggend tot die laagste vlak sedert Maart gedaal het nadat die Amerikaanse president Donald Trump en Iran se adjunkminister van buitelandse sake, Kazem Gharibabadi, gesê het dat hulle 'n aanvanklike ooreenkoms bereik het om die oorlog te beëindig en verkeer deur die Straat van Hormuz te hervat. Kosmos 94.1 Nuus het met 'n Suid-Afrikaanse ekonoom Dawie Klopper gepraat wat sê die feit dat Brent met 4 persent gedaal het en nou rondom 83 Amerikaanse dollar per vat verhandel, is 'n goeie aanduiding, maar dat dit tot nege maande sal duur voordat pryse normaliseer.
Amerikaanse president Donald Trump het Iran daarvan beskuldig dat hy 'n Amerikaanse AH-64 Apache-helikopter Maandagaand oor die Straat van Hormuz neergeskiet het, en het belowe om uit "noodsaaklikheid" op die aanval te reageer. Die helikopter se twee bemanningslede is deur 'n Amerikaanse see-hommeltuig gered. Amerikaanse sentrale bevel het op X gesê dat die oorsaak van die neerstorting nog ondersoek word. Al Jazeera se Engelse korrespondent Almigdad Alruhaid berig uit Teheran.
Reaksie word ontvang op die resultate van die StartupBlink Global Startup Ecosystem-indeks wat gemengde uitslae vir Namibië toon. Wêreldwyd het ons agt plekke teruggeval na 94ste toe. In Afrika het die land ook teruggesak uit die top-agt na tiende plek, en in die SAOG-streek het ons tweede plek behou. Terwyl die land se interne beginner besigheid-ekosisteem groei, het intense mededinging van vinniger groeiende globale eweknieë 'n effense daling in die algehele makro-ranglys veroorsaak. Kosmos 94.1 Nuus het met Catherine Shipushu van die Namibië Beleggingsbevordering en Ontwikkelingsraad gepraat.
Reaksie word ontvang op die gesondheidministerie wat sê die medisynevoorraad staan tans op 60 persent. Dit is veel laer as die minimum teiken van 80 persent, en het tekorte aan verskeie noodsaaklike produkte veroorsaak. Lifalaza Simataa, woordvoerder van die LPM, sê die party ontvang gereeld klagtes oor die ministerie se verkryging.
Reaksie word ontvang op Stad Windhoek wat dorpsontwikkelings- en formaliseringsprojekte in Otjomuise en Hadino Hishongwa goedgekeur het, wat na verwagting meer as 1 100 nuwe erwe sal skep. Kosmos 94.1 Nuus het met Heinrich Amushila van die Shack Dwellers Federation gepraat, wat sê die model wat voorgestel word sal nie bekostigbaar wees nie.
Reaksie word ontvang oor Naomi Fisch, 'n inwoner van Rehoboth en veelvuldige dwelmbeskuldigde, wat borg van 9 000 Namibiese dollar in die Rehoboth-landdroshof toegestaan is. Fisch is op twee aanklagte in hegtenis geneem nadat sy na bewering in besit van crack-kokaïen gevind is en van regsverydeling beskuldig is. Dis is die vyfde kriminele saak teen haar. Kosmos 94.1 Nuus het met gemeenskapsleier, Manfred Drafhoender gepraat.
Reaksie op en ontleding van president Cyril Ramaphosa se toespraak gisteraand. Die eerste stappe om 'n komitee saam te stel wat Ramaphosa se bevoegdheid as president sal bepaal, en opruimingswerk in die Wes-Kaap word belemmer deur stormweer wat voortduur.
Reaksie word ontvang oor die voorval waarin Giano Seibeb na bewering sonder klere in die Staatshuis betrap is. Seibeb het 'n geskiedenis van skisofrenie en is as vermis aangegee nadat hy uit 'n staatsfasiliteit ontsnap het. Oud-Namdia-hoof Kennedy Hamutenya sê sulke ontsnappings gebeur gereeld en hy het persoonlike ervaring daarvan.
Reaksie word ontvang op die opdrag deur die eerste minister, Elijah Ngurare, dat fase twee van die Neckartaldam se ontwikkeling moet afskop en voltooi word. Blykbaar sal die fase, wat besproeiing behels, voltooi word teen 'n bedrag van 2 miljard Namibiese dollar en met die hulp van 'n private vennootskap. Kosmos 94.1 Nuus het met voormalige raadslid vir die Keetmanshoop landelike kiesafdeling, Willem Labuschagne gepraat. Daar is kwessies met die grond.
Sewe familielede in KwaZulu-Natal ontvoer en wreed vermoor. Reaksie op die voorlopige skorsing van die Nasionale Polisiekommissaris. Die eerste drietalige woordeboek (Kaaps, Afrikaans en Engels) word uiteindelik bekendgestel.
Reaksie word steeds ontvang oor Suid-Afrikaanse EFF-leier Julius Malema se vonnis en verlof om daarteen te appelleer. Landdros Twanet Olivier het gesê dat sy nie twyfel aan sy skuldbevinding nie. Volgens AMT se nuutste politieke ontleding deur Roland Henwood van die Universiteit van Pretoria, is alles polities op die spel vir Malema. Dit beteken nie hy sal nie die situasie tot sy guns probeer uitbuit nie.
Reaksie word ontvang op die omgewingsministerie wat pendel tussen die Sossusvlei 2x4-parkeerarea en die 4x4-parkeerarea by die Dooievlei beperk het. Toer operateurs is erg ontstoke oor dié verwikkeling en spreek hulle kommer uit oor die besluit. Toergids Joseph Kafunda het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat en sê die regering melk die toerismebedryf.
Reaksie word steeds ontvang oor die president se staatsrede, waarin sy parlementslede aangemoedig het om die petroleum wetsontwerp te finaliseer. Volgens ekonoom Almandro Jansen was die staatsrede positief, maar beleide moet gefinaliseer word, korrupsie moet vasgevat word en projekte moet na uitvoering beweeg. Kosmos 94.1 Nuus het met Jansen gepraat.
Die Verenigde Arabiese Emirate het 'n leidende rol gespeel in die veroordeling van Iranse optrede in die Straat van Hormuz, deur saam met Westerse vennote op te tree en homself van ander Brics-lede se standpunte oor hierdie kwessie te distansieer. Sommige Brics-lede, soos Suid-Afrika, China en Brasilië, bly meer neutraal. Kosmos 94.1 Nuus het met die afgetrede diplomaat dr. Riaan Eksteen gesels, wat sê hierdie ontwikkeling sal besprekings binne Brics oor die formulering van verenigde standpunte oor Golfsekuriteit verskerp.
Reaksie word ontvang op die regering se besluit om 'n versoek van miljardêr Elon Musk se Starlink te weier om sy satelliet-internetdienste in Namibië te bedryf. Kosmos 94.1 Nuus het met die boer en Starlink-ondersteuner Peet van Staden gepraat wat sê dit is 'n massiewe slag vir die boeregemeenskappe wat sukkel met betroubare internetverbindings.
Reaksie word ontvang op die landbouministerie wat 'n bek-en-klouseer-beheergebied in die Karas-streek afgekondig het. Die beheergebied dek 'n band van twee aangrensende plase langs die grens wat strek oor meer as 10 km suid van die Mata Mata-grenspos af tot by die Oranjerivier, en noord van die Oranjerivier tot by die Atlantiese Oseaan. Verskeie maatreëls geld in dié gebied. Kosmos 94.1 Nuus het met landboukenner Wallie Roux oor sy mening van die jongste verwikkelinge gepraat:
Reaksie word ontvang oor 'n artikel deur 'n groep ondersoekende joernaliste op die bekroonde aanlynplatform Forbidden Stories. Daar word berig dat Rusland ten gunste van Swapo in die 2024 verkiesing ingemeng het en dat Swapo ook geld van Rusland gevra het vir sy veldtog. Intussen het die Speaker vrae hieroor in die Nasionale Vergadering geweier. Kosmos 94.1 Nuus het met Frederico Links van Fact Check Namibia gepraat. Links sê hy het die dokumente onder oë gehad en meer sal in die komende weke daaroor gepubliseer word. Hy sê die kwessie moet gedebatteer word.
Reaksie word ontvang oor Namibië en Rusland se Inter-regeringskommissie oor Handel en Ekonomiese Samewerking, wat Maandag afgesluit het. Die Russiese adjunk-eerste minister, Yury Trutnev, het onder andere Rosatam se in situ-loging uraaneksplorasie deur Headspring Investments in die Omaheke-streek besing, en op die voordele van mynontwikkeling gewys. Die gesprekke is deur Sauma gevolg en het kommer onder lede laat ontstaan. Kosmos 94.1 Nuus het met Wolfgang Teichert, die voorsitter van Sauma gepraat.
Reaksie kom in op Sauma wat groot kommer geopper het oor die verslag van die Staande Komitee oor Natuurlike Hulpbronne, wat aanbeveel dat Headspring Investments en Uranium One met in-situ uraan-eksplorasie in die Omaheke-streek voortgaan. Dit is om tot 'n wetenskaplike gevolgtrekking te kom oor die weg vorentoe. Volgens die verslag is in-situ-herwinningstegnologie vir meer as 50 jaar vervolmaak en maak nou 50 persent van wêreldwye uraanmynbou uit. Uranium One het vir ongeveer 20 jaar agt sulke uraanmyne regoor die wêreld bedryf, veral in die VSA en Kazakstan. Kosmos 94.1 Nuus het met die voorsitter van die komitee dr. Tobie Aupindi gepraat, wat sê die besluit moet nie op emosie en opinies gebaseer word nie.
Reaksie word steeds ontvang oor Nudo LP Vetaruhe Kandorozu wat vir adjunk-onderwysminister Dino Balotti in die parlement gesê het hy moet teruggaan na Italië en dat Namibiërs nie so lyk nie. Hierdie keer het Kosmos 94.1 Nuus direk met Nudo gepraat. Volgens Nudo-lid Barry Rukoro stem hy saam dat Kandorozu se opmerking ongevraagd was. Die party kan egter niks daaraan doen nie want dit is in wanorde.
Reaksie word ontvang op Onafhanklikheidsdag op 21 Maart wat vanjaar amptelik in al 14 streke gevier sal word, en altesaam 3,5 miljoen Namibiese dollar gaan kos. Met gebeure in die Midde-Ooste wat die wêreldekonomie op die agtervoet het, voel opposisie-partye dat die land se prioriteite nie reg is nie. LPM-woordvoerder Lifalaza Simataa sê die regering kan nie net aangaan asof niks gebeur het nie. Hy het meer.
Reaksie is ontvang op berigte uit die VSA dat die Withuis sê president Donald Trump het ‘n gevoel gehad Iran sal ‘n aanval uitvoer en daarom het hy opdrag gegee dat Operasie Epic Fury uitgevoer moet word. Die kongreslid en afgetrede Amerikaanse kolonel Eugene Vindman sê jy begin nie ‘n oorlog op ‘n gevoel of hoop nie. Hy het met CNN gepraat.
Reaksie word ontvang op die rassistiese aanmerkings wat Woensdag deur Nudo LP Vetaruhe Kandorozu teen die adjunk-sportminister Dino Ballotti. Kandorozu het vir hom gesê om terug te gaan na Italië en dat Namibiërs nie so lyk nie. 'n Bohaai het losgebars en ‘n hoogs ontstoke onderwysminister Sanet Steenkamp het Kandorozu aan die bek reruk. Oud-speaker professor Peter Katjavivi sê aan Kosmos 94.1 dit was heeltemal onaanvaarbaar.
Reaksie word ontvang op 'n video wat op sosiale media sirkuleer van 'n pa van Swakopmund wat sy agtjarige seun met sy vuiste aanrand. Hy het die kind ook aan die nek en arms gegryp. Die 36-jarige verdagte sal na verwagting vandag in die dorp se landdroshof verskyn. Hy staar aanklagte ingevolge die Wet op Kindersorg en Beskerming, asook aanranding met die doel om ernstig te beseer in die gesig. Kosmos 94.1 Nuus het reaksie gekry by die direkteur van Civic 264, Ethne Mudge.
Reaksie word ontvang oor die 2025 Globale Geestesgesondheidsverslag deur Sapien Labs wat bevind het dat jongmense in hoë-inkomstelande meer met hul geesteswelstand sukkel as die jeug in baie ontwikkelende streke. Faktore sluit in vroeër toegang tot slimfone, diëte wat baie ultra-verwerkte voedsel bevat, spiritualiteit en gesinsbande. Kosmos 94.1 Nuus het gesels met die kliniese sielkundige Shaun Whittaker, wat sê dat 'n welgestelde lewe ook gevare inhou, met gesinsbande wat dikwels nie heg is nie en digitale inhoud wat op 'n ongesonde manier verbruik word. Hy het raad oor hoe om geesteswelstand te ondersteun.
Reaksie word ontvang op die nasionale begroting van 105,9 miljard Namibiese dollar vir die 2026/27 finansiële jaar. Dit sluit 'n operasionele begroting van 81,3 miljard dollar in, asook 6,5 miljard dollar vir staatsbefondsde ontwikkelingsprojekte. Kosmos 94.1 Nuus het met Simonis Storm se ekonoom, Almandro Jansen, gepraat wat kommer uitgespreek het oor stygende openbare skuld.
Reaksie word ontvang op Meatco se operasionele wins van 106 miljoen Namibiese dollar in 2025, 'n beduidende verbetering op die vorige jaar se verlies van 150 miljoen dollar. Kritici voer aan dit word versterk deur boekinskrywings soos waardevermindering en die regering se droogtehulpprogram vir 2024-2025, wat die deurset kunsmatig opgeblaas het. Meatco se afhanklikheid van mediumtermyn-staatsbefondsing vir institusionele stabiliteit wek steeds kommer, het landboukenner Wallie Roux aan Kosmos 94.1 Nuus gesê.
Namibië versterk sy kuberverdediging. Die Namibiese Kuberveiligheidsvoorvalreaksiespan het 'n vierdaagse Domeinnaamstelsel-veerkragtigheidsopleiding in Windhoek afgesluit wat daarop gemik was om die land se reaksie op groeiende aanlynbedreigings te versterk. Die program het gefokus op kwaadwillige aktiwiteite wat 'n beduidende bedreiging vir internet-integriteit in Suider-Afrika inhou. Cran se woordvoerder Mufaro Nesongano: