POPULARITY
Sekere sektore in die ekonomie van lande waar bek-en-klouseer lei skade in die kort termyn, maar gewoonlik word daar in die geheel nie langtermyn-skade opgedoen nie. Die Suid-Afrikaanse ekonoom Dawie Roodt het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê die impak van die siekte sal ook nie noodwendig beleggersvertroue skaad nie.
Die Suid-Afrikaanse landbousektor verwelkom 'n hofuitspraak in Amerika teen president Donald Trump se handelstariewe. Misdaadstatistiek weerspieel nie suksesvolle vervolgings nie, sê kritici. Staatsdiensvakbonde betoog teen verhoogde mediese premies.
Verligting kan binnekort in sig wees vir beide Namibiese en Suid-Afrikaanse verbruikers namate bemoedigende ekonomiese seine na vore kom. Die Suid-Afrikaanse rand bly stewig onder die vlak van 16 teenoor die Amerikaanse dollar, terwyl wêreldwye oliepryse na verwagting tot 'n vyfjaar-laagtepunt van 58 Amerikaanse dollar per vat in 2026 sal daal. Kosmos 94.1 Nuus het met ekonoom Dawie Roodt gesels, wat sê die sterkte van die rand en die Namibiese dollar dui op positiewe vooruitsigte vir die streek se ekonomie.
Die Suid-Afrikaanse slagoffer van Jeffrey Epstein, Juliette Bryant, het die ontslape veroordeelde seksoortreder as 'n meesterbrein en hoogs manipulerend beskryf. Sy is in 2002 deur Epstein in Kaapstad gewerf as 'n 20-jarige eerstejaar-universiteitstudent en aspirant-model. Sy sê hy het haar verskeie kere tussen 2002 en 2004 op sy privaat eiland in die Karibiese Eilande, en sy plaas in Nieu-Mexiko, mishandel. Bryant het aan Newzroom Afrika gesê sy is nie met ander mans gedeel nie, maar herhaaldelik deur Epstein verkrag:
Die Suid-Afrikaanse suikernywerheid staar 'n ernstige krisis in die gesig met Tongaat Hulett wat nader aan likwidasie beweeg. Die maatskappy se meulens, raffinaderye en verbouing van suikerriet ondersteun duisende klein- en grootskaalse produsente in KwaZulu-Natal en Mpumalanga. Die voorsitter van die SA Suikerrietkwekersvereniging, Higgins Mdluli, waarsku die ineenstorting bedreig die lewensbestaan van duisende suikerrietprodusente. Mdluli doen 'n beroep op die regering en Tongaat se reddingspraktisyns om dringend die voortsetting van die meulbedryf te verseker en produsente se inkomste te beskerm:
Tertia Jacobs, tesourie-ekonoom by Investec, deel haar siening oor die Reserwebank se besluit, wat dit vir verbruikers en die ekonomie kan beteken, en haar verwagtinge vir Maart se rentekoersbesluit. Volg RSG Geldsake op Twitter
Het jy al ooit gewonder hoe die bekende Britse sangeres se musiek in Afrikaans sou klink? In 'n onlangse sosiale media-video het die musikant en inhoudskepper Jana nuwe lewe aan een van Adele se grootste treffers gegee. Die Suid-Afrikaanse musikant het volgelinge vermaak met 'n Afrikaanse weergawe van Adele se 2021-treffer Easy on Me.
Suid-Afrika se KI-musikant, Jakkals Vibes, het onlangs op Breakfast with Martin Bester se Friday Live opgetree – 'n eerste-van-sy-soort vertoning! Die Suid-Afrikaanse musikant Elster Pieterse het Jakkals Vibes verteenwoordig en saam met Martin Bester gesels oor kunsmatige intelligensie, Jakkals Vibes en die musiek. Die werklike persoon agter die musiek verkies om anoniem te bly, terwyl Pieterse die Jakkals Vibes-handelsmerk in die openbaar verteenwoordig.
Charnè van der Walt, belastingpraktisyn en stigter van Lemons into Lemonade, gesels oor haar ope brief aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Volg RSG Geldsake op Twitter
Henry Botha – hoof van strategie en analise, Absa Voertuigfinansiering Volg RSG Geldsake op Twitter
Die Suid-Afrikaanse regering sê sy plek binne die G20-groepering is onaantasbaar, nadat die Amerikaanse president Donald Trump gesê het Suid-Afrika is nie welkom by volgende jaar se G20-beraad nie. Die matriekklas van 2025 lê hulle penne neer - ons praat met 'n kenner oor die nuwe hoofstuk wat nou vir hulle voorlê. Nóg aanklagte word gebring teen Duduzile Zuma-Sambudla vir haar beweerde rol in die werwing van huursoldate in Oekraïne.
Die Suid-Afrikaanse rand het vir die eerste keer sedert Februarie 2023 tot onder 17 per Amerikaanse dollar versterk, terwyl aandele en effekte gestyg het na die middeltermynbegrotingsopdatering wat 'n laer inflasieteiken en verbeterde fiskale vooruitsigte insluit. Die rand het soveel as 0,8 persent gestyg en sy sterkste vlak in byna drie jaar bereik, op grond van verwagtinge dat die sentrale bank rentekoerse langer hoër sal hou om prysstygings te demp. Die Johannesburgse aandele-maatstaf was Donderdag die wêreld se bespresterende aandele-indeks. Kosmos 94.1 Nuus het gesels met die Suid-Afrikaanse ekonoom Dawie Klopper.
Die Suid-Afrikaanse sanger Bok van Blerk het onlangs 'n skokkende plasing op sosiale media gedeel. In sy plasing het die 'Lemoene'-sanger foto's van 'n vliegtuig gedeel en bekend gemaak dat hy 'n noodlanding moes maak nadat die vliegtuig se brandstofprop afgekom het. Breakfast with Martin Bester het met die sanger gepraat oor die insident.
Die Suid-Afrikaanse rand het versterk tot net bo 17 teenoor die Amerikaanse dollar nadat Suid-Afrika van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys verwyder is. Die ontwikkeling volg op die Amerikaanse Federale Reserweraad se besluit om sy maatstafkoers te verlaag met 25 basispunte, wat vraag na die Amerikaanse geldeenheid afdwing en dus verswak dit. Plaaslike ekonoom Josef Sheehama het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê dat die ontwikkeling nie net positief is vir Suid-Afrika nie, maar ook vir Namibië.
Dr. Annelise de Vries, hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, vertel wat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is en waarom dié organisasie bestaan. Dr. De Vries gesels onder meer ook oor die boustene van 'n taal, die fondasie van taalbeplanning en wat die gemeenskap in plek kan stel vir die betekenisvolle gebruik van Afrikaans in alle lewensruimtes van Afrikaanssprekendes.
Die Suid-Afrikaanse regering het alle vorms van geweld by skole veroordeel en sê dit ondermyn onderrig, veiligheid en kinders se toekoms. ʼn Gautengse skoolhoof is verlede week met ʼn mes gesteek toe sy probeer het om ʼn geveg tussen leerders van West Ridge High en Hoërskool Roodepoort te stop. In Klerksdorp, Noordwes, is talle leerders van die Hoër Tegniese Skool geskors ná ʼn video waarop hulle ʼn onderwyser aanval. ʼn Woordvoerder van die regering, Nonkululeko Mtshali, sê skole moet veilige ruimtes wees en onderwysers moet gerespekteer word:
Die Suid-Afrikaanse landbouminister John Steenhuisen het ʼn volledige verslag aangevra oor die onlangse verkiesingsproses van die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad. Dit volg nadat kommer uitgespreek is oor die proses se deursigtigheid en prosedurele integriteit. Die ministerie se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê dit sluit teenstrydige kommunikasie aan geregistreerde veeartse in oor stemdatums, die bevoegdheid van sekere kandidate en die regverdigheid en onafhanklikheid van die verifiëringsproses:
Onwettige wapens bly ‘n uitdaging. Die Suid-Afrikaanse polisie se teenontvoering-taakspan glo hulle het ʼn sindikaat blootgelê wat betrokke is by die smokkel van ongelisensieerde vuurwapens. Twee verdagtes wat in Johannesburg, vasgetrek is, is na bewering betrokke by die vervoer van ongelisensieerde vuurwapens reg oor die land. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê hulle is betrap met 30 ongelisensieerde vuurwapens:
Die Suid-Afrikaanse sangeres, Corlea, het die hele Suid-Afrika in trane gehad tydens haar optrede van die volkslied tydens 'n wedstryd tussen Suid-Afrika en Georgia.
Die KAL-groep het meer as 'n eeu gelede ontstaan en het sedertdien gegroei tot 'n gediversifiseerde landbou-, handels-, brandstof- en kleinhandelsgroep. Bestuurshoof Sean Walsh gesels oor die groep se geskiedenis en toekoms. Volg RSG Geldsake op Twitter
Die Suid-Afrikaanse regering sê hy is bekommerd oor Amerika se besluit om sanksies in te stel teen vier regters van die Internasionale Strafhof. Dis in reaksie op die strafhof se lasbriewe vir die inhegtenisneming van Israelse amptenare, insluitend eerste minister Benjamin Netanyahu, en die ondersoek na beweerde Amerikaanse oorlogsmisdade in Afghanistan. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê dit skep ʼn presedent waar mense aanspreeklikheid vir menseregteskendings kan vermy:
Die Suid-Afrikaanse veselinstallasie maatskappy LightStruck het 'n vennootskap met die Stad Windhoek se City Link-inisiatief begin om die stad se pogings om sy veselnetwerk te kommersialiseer, te bevorder. Lightstruck het ook in vennootskap met RocketNet getree om met vesel-installering dwarsoor die land te help. Kosmos 94.1 Nuus het gesels met Xander Erasmus, die stigter van RocketNet.
Die Suid-Afrikaanse regering het die aanvalle op burgerlike teikens in Gaza veroordeel. In die jongste voorval het Israel ʼn missielaanval uitgevoer op die al-Ahli Arab-hospitaal in Gaza Stad. Die hospitaal se intensiewesorg- en operasie-departement is in die aanval vernietig. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê Israel het sedert die begin van die oorlog in Oktober 2023 minstens 35 hospitale in Gaza gebombardeer, afgebrand en verwoes. Hy sê dis ʼn oortreding van die internasionale humanitêre reg.
Die Suid-Afrikaanse handelsdepartement het beklemtoon hoe belangrik dit is vir Afrika om sy eie medisyne te vervaardig. Die departement se hoofdirekteur van Nywerheidsverkryging, Tebogo Makube, het op die G20-hoëvlak ministeriële dialoog gepraat oor die versterking van streekswaardekettings in die Afrika-mark, met hindernisse in handel wat uit die weg geruim moet word:
Ten spyte van al die debatte oor Suid-Afrika se gespanne verhouding met die VSA, het die Suid-Afrikaanse rand, en dus Namibiese dollar, Dinsdag sy beste vlak teenoor die dollar sedert middel Desember bereik. In Februarie het die geldeenheid vlugtig tot bo 19 teen die Amerikaanse geldeenheid gestyg nadat die Amerikaanse president Donald Trump aangekondig het dat sy land gaan ophou om hulp aan Suid-Afrika te verleen oor sy grondonteieningsbeleid. Die Suid-Afrikaanse ekonoom Dawie Roodt sê dis nie eintlik iets om te vier nie.
Die Suid-Afrikaanse rand, en dus die Namibiese dollar, het Vrydag vir die eerste keer sedert April 2024 tot meer as 19 tot die Amerikaanse dollar verswak en was op 'n stadium op 19,20. Die wisselkoers is tans rondom 19,14. Die gevolg is dat invoere en brandstof duurder sal word. Kosmos 94. Nuus het met Suid Afrikaanse ekonoom Dawie Roodt gepraat wat verduidelik wat met die dollar aan die gebeur is.
Die Suid-Afrikaanse popsensasie, Tyla, het uitgeblink op 2024 se Billboard-musiektoekennings en is vereer vir beste Afrobeats-liedjie en Afrobeats-kunstenaar. Sy is agt keer in ses kategorieë benoem, insluitend Top R-en-B-kunstenaar en Top R-en-B vroulike kunstenaar. Tyla, wat bekend is vir amapiano-musiek, het ook toekennings verower op die SAMA's, Grammys, BET en MTV EMA's. Sy het haar aanhangers bedank vir hul ondersteuning.
Die Suid-Afrikaanse lughawemaatskappy, ACSA, sê Maandag se vier uur lange brandstof-onderbreking by die OR Tambo Internasionale Lughawe het 483 vlugte en 49 429 passasiers geraak. Boonop is 31 vlugte vir die dag gekanselleer. Die probleem is veroorsaak deur ʼn dryfas wat gebreek en gekeer het dat brandstof van opgaartenks na die laaiblad gepomp word sodat die vliegtuie volgemaak kan word. ACSA se uitvoerende hoof, Mpumi Mpofu, sê ʼn nood-klepvervanging sal die komponent se betroubaarheid verseker:
Oliepryse bly onder druk en dit is natuurlik tot voordeel van verbruikers. Brent het die week geopen op net meer as 71 Amerikaanse dollar ‘n vat. Opul en sy vennote het produksie verhogings tot ten minste April volgende jaar uitgestel maar, die prys van die kommoditeit herstel nie, as gevolg van laer vraag. Die Suid-Afrikaanse beleggingsekonoom Dawie Klopper sê dit behoort vir die volgende ses maande voort te duur.
Die DA sê 'n faksie van die ANC wil onderwysminister Siviwe Gwarube uit die saal lig. Rusland gee Sirië se president, Bashar al-Assad, asiel nadat sy regering in duie stort. Die Suid-Afrikaanse sopraan, Pretty Yende, sing in die herboude Notre Dame-katedraal in Parys.
Die Suid-Afrikaanse sensasie Tyla het drie toekennings ingepalm by die MTV Europe-musiektoekennings wat in Manchester, Engeland, gehou is. Sy was die wenner van Best R&B, Best Afrobeats, en Best African Artist. Die popsuperster Taylor Swift was die groot wenner met vier toekennings; Best Artist en Best Video vir haar samewerking met Post Malone aan Fortnight, Best Live, en Best US Act. Onder die ander wenners was Eminem, Ariana Grande en Raye. Tyla sê sy is geëerd en geskok oor haar toekennings:
Die jongste weervoorspellings vir Namibië dui daarop dat die La Niña-verskynsel waarskynlik die komende reënseisoen sal beïnvloed. Hoewel La Niña die kanse op reënval verhoog, waarborg dit nie konsekwente en wydverspreide neerslae nie. Die Suid-Afrikaanse weerkenner Johan van den Berg het 'n opdatering oor La Niña en Namibië gegee in die jongste AMT-weervoorspelling.
Die Suid-Afrikaanse roei-ster, Kira Bester, het die algehele Wêreldtitel verower by die Wêreldkampioenskap vir Oseaanwedvaart vir Kano's in Madeira, Portugal. Die 22-jarige het die wedvaart van 21 kilometer in net minder as twee uur afgelê en mede-Suid-Afrikaner, Michelle Burn, met 22 sekondes verslaan. Ana Swetish van Amerika was derde. Bester beskryf haar oorwinning as ʼn droom wat bewaarheid is.
Die jongste AMT-weervoorspelling is uit. Die eerste betekenisvolle reën vir landboudoeleindes word in November verwag. Die Suid-Afrikaanse weerkenner Johan van den Berg kyk na die veranderende weerpatrone, ryp wat kan voorkom en die verwagte reënval. Van den Berg is aan die woord.
Die Suid-Afrikaanse sangeres, Tyla, het haar eerste MTV Video Music-toekenning vir Best Afrobeats gewen vir haar trefferliedjie, Water. Sy het geskiedenis gemaak as die eerste vroulike Afrika-kunstenaar wat ʼn MVA wen. Taylor Swift, wat 12 keer benoem is, het sewe opgeraap. Dit sluit in Kunstenaar van die Jaar en Beste Samewerking vir Fortnight saam met Post Malone. Sy spog nou met die meeste toekennings in MVA-geskiedenis. Tyla sê die uitwerking wat haar liedjies wêreldwyd het, bewys dat Afrika-musiek ook popmusiek kan wees.
Die Suid-Afrikaanse belegger en kommentator Karin Richards het op X haar kommer gedeel oor dalende olie- en koperpryse, wat sy as kommerwekkende aanwysers vir die wêreldekonomie beskou. Sy het opgemerk dat oliepryse daal, ondanks 'n oorlog in die Midde-Ooste, terwyl goud se stabiliteit as 'n waarskuwing dien. Kosmos 94.1 Nuus het gesels met die Cirrus-ekonoom Robert McGregor, oor wat dit vir Namibië beteken.
Die jongste AMT-weervoorspelling sê enkele reënbuie kan begin voorkom maar die eerste goeie reën word eers later in die seisoen verwag. Baie warm toestande kom voor en die rypseisoen blyk verby te wees. Dit lyk ook of La Nina begin versterk, wat positief is vir somerreënval. Die Suid-Afrikaanse weerkenner Johan van den Berg is aan die woord.
Die Suid-Afrikaanse energiekenner, Sampson Mamphweli, glo die regering kan teen November of Desember vanjaar aankondig beurtkrag is iets van die verlede. Mamphweli sê die vooruitsig vir die beskikbaarheid van energie is positief, met vier maande sonder beurtkrag, ‘n beskikbaarheidsfaktor van energie van meer as 60-persent en minder ineenstortings. Hy is vol vertroue Eskom kan tot die begin van die somer volhou met energievoorsiening:
Die Suid-Afrikaanse landbouminister, John Steenhuisen, het op Agri Oos-Kaap se jaarkongres beklemtoon dat dié sektor die stukrag kan wees vir ekonomiese groei in die Oos-Kaap. Steenhuisen sê kwessies soos beleids-onsekerheid, plaasmoorde, landelike misdaad en uitdagings met biosekuriteit moet egter dringend opgelos word sodat die sektor groei. Hy sê landbou lewer 'n beduidende bydrae tot die land se BBP en bied talle geleenthede vir groei, ontwikkeling en werkskepping.
Die Suid-Afrikaanse rand het effe versterk teenoor die Amerikaanse dollar verlede week veral na die jongste inflasiesyfers uit die VSA getoon het dat die Federale Reserwebank teen September rentekoerse sal sny. Volgens dr. Roelof Botha van die Optimum-groep beteken dit dat dit onvermydelik sal wees dat Suid-Afrika ook teen September ‘n daling in die repokoers sal sien. Hy verduidelik aan Kosmos 94.1 Nuus.
Die Suid-Afrikaanse finansminister, Enoch Godongwana, sê met die regering se vinnige instelling van die aksieplan waarop met die Finansiële Aksietaakmag ooreengekom is, sal die land vroeg volgende jaar van die gryslys verwyder word. Suid-Afrika is in Februarie verlede jaar op die gryslys geplaas omdat hy nie voldoen aan internasionale standaarde wat geldwassery en onwettige finansiële transaksies betref nie. Godongwana sê sy departement het 31,2-miljoen Suid-Afrikaanse rand toegeken aan belastingbeleid-subprogram in die ekonomiese beleid-, belasting-, finansiële regulering- en navorsingsprogram om die land van die gryslys te kry:
Die Suid-Afrikaanse rand het met net meer as 1,5 persent verstewig na die nuwe kabinet in die buurland aangekondig is. Politieke partye in die regering van nasionale eenheid wat ministeries gekry het, sluit in die DA, IVP, Vryheidsfront Plus en Patriotic Alliance. President Cyril Ramaphosa sê die inkomende regering sal voorkeur gee aan vinnige, inklusiewe en volhoubare ekonomiese groei, en om ʼn meer regverdige samelewing te skep deur armoede en ongelykheid aan te spreek.
In Suider-Afrika is La Niña geneig om geassosieer te word met bogemiddelde reënval en voorspellings was dat die streek wel die stelsel die komende somer sou sien ontwikkel. Maar, die nuus kan nie slegter wees nie. Die Suid-Afrikaanse weerkenner Johan van den Berg het 'n opdatering oor die Namibiese toestande gegee en gesê dat La Niña in die komende maande neutraal sal bly en nie sterk sal ontwikkel nie.
Die Suid-Afrikaanse rand het begin daal en daal steeds, te midde van onsekerheid oor president Cyril Ramaphosa se kabinet. Spanning laai ook op omdat daar friksie is tussen die DA, die ANC se grootste koalisievennoot, en Ramaphosa oor sleutelportefeuljes. Kosmos 94.1 Nuus het met die Suid-Afrikaanse ekonoom Chris Hart gesels oor wat die rand in die komende dae gaan doen.
Die Suid-Afrikaanse jeug is aangemoedig om ywerig te bly in hul entrepreneurskapsreis. Green Youth Indaba se voorsitter, Sanele Zulu, het die noodsaaklikheid beklemtoon om geleenthede te bied en die hoë werkloosheids-probleem aan te pak. Zulu het met die SABC gepraat en die belangrikheid van entrepreneurskapsopvoeding en begrip van wetgewende bepalings vir ondernemings beklemtoon. Hy het 'n beroep op jong entrepreneurs gedoen om proaktief geleenthede te soek om die ekonomie te verbeter en werkloosheid aan te spreek:
Die Suid-Afrikaanse gesondheidsdepartement het die eerste besending Tecovirimat ontvang om pasiënte te behandel wat weens a-pokke met ernstige gesondheidsprobleme sukkel. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die proses is aan die gang om nog behandeling, wat entstof insluit, te kry indien dit nodig sou wees. Hy sê nog ses gevalle is deur ʼn laboratorium bevestig wat die totaal op 13 te staan bring:
Die Suid-Afrikaanse rand vertoon op die oomblik baie goed teen die Amerikaanse dollar, rondom 18,20. Die bestendigheid en volwasse gedrag van die politieke partye het volgens die ekonoom Chris Hart, ‘n baie goeie impak op die geldeenheid wat selfs verder kan versterk.
Die Suid-Afrikaanse gesondheidsdepartement het pogings verskerp om die verspreiding van M-pokke te bekamp, nadat vyf gevalle en een sterfte aangeteken is. Die departement span saam met MIV-programme en sleutelorganisasies om bewusmaking te verhoog. Die gesondheidminister, Joe Phaahla, het op 'n nuuskonferensie gesê Tecovirimat, 'n antivirale medikasie, is verkry vir ernstige gevalle deur skenkings van die Wêreld-gesondheidsorganisasie.
Die Suid-Afrikaanse vakbond Solidariteit het politieke partye wat betrokke is by samesprekings vir 'n regering van nasionale eenheid, versoek om die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering teen te staan. Die oproep volg te midde van president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat hy die vakbond se hofaansoek teen die NGV gaan teenstaan. Anton van der Bijl van Solidariteit voer aan dit is ongrondwetlik, onbekostigbaar en sal toegang tot gehalte gesondheidsorg verminder. Van der Bijl beloof om die versekering in die hoogste hof uit te daag:
Die Suid-Afrikaanse handelsminister, Ebrahim Patel, sê Vivo Energy wat deur die globale verbruiksgoedere-handelaar Vitol besit word, gaan aanvanklik tien-miljard Suid-Afrikaanse rand in sy bedrywighede daar belê. Dit volg ná sy samesmelting met Engen. Patel sê die belegging is deel van ʼn reeks verbintenisse tot openbare belang en mededinging, wat werksverliese wil voorkom en voortgaan met kontrakte aan plaaslike raffinaderye.