RSG Dokumentêr

Follow RSG Dokumentêr
Share on
Copy link to clipboard

'n Reeks dokumentêre programme deur 'n span gesoute RSG en SABC omroepers en joernaliste

RSG


    • Jul 30, 2026 LATEST EPISODE
    • monthly NEW EPISODES
    • 27m AVG DURATION
    • 357 EPISODES


    More podcasts from RSG

    Search for episodes from RSG Dokumentêr with a specific topic:

    Latest episodes from RSG Dokumentêr

    DIE LANGPAD deur Ettienne Ludick

    Play Episode Listen Later Jul 30, 2026 25:53


    Om 'n langafstand-vragmotorbestuurder te wees, is nie in elke mens se bloed nie. Dis lang ure weg van jou geliefdes, en gevare op die pad wat genavigeer moet word. Ons pak ‘n reis aan saam met drie langafstanddrywers, wat die menswees agter die stuur van tonne vrag ontbloot. Hoor die passie, die gevare, die vrese en die verlange van diegene wat die land aan die gang hou met 18 wiele of meer, elke dag op Suid-Afrika se besigste roetes.

    NIE VIR HAAR GEBOU: DIE GESLAGSGAPING IN DIE ONGELUK deur Martelize Brink

    Play Episode Listen Later Jul 23, 2026 25:31


    Vroue is meer geneig om ernstig beseer te word, of te sterf, in motorongelukke as mans, met 'n 73% hoër waarskynlikheid van ernstige beserings in vergelykbare ongelukke. Vroue ly meer beserings aan die onderste ledemate, buik en bors, terwyl mans meer geneig is tot rugbeserings en, oor die algemeen, meer noodlottige ongelukke. Motors is oor die jare volgens mans se liggame ontwerp. Selfs die veiligheidstoetse is met manlike botstoetspoppe gedoen. Nuwe, meer akkurate vroulike botstoetspoppe word ontwikkel wat 150 sensors bevat om die spesifieke impak op 'n vrou se liggaam te meet. Martelize Brink praat onder meer met die Sweedse navorser wat die eerste vroulike botstoetspop ontwikkel het, prof. Astrid Linder.

    MET DIE HELM GEBORE deur Flip Loots

    Play Episode Listen Later Jul 16, 2026 26:20


    Die sien van rampe, voorbodes, geluk, besonder gelukkig wees - dit is alles woorde wat gebruik word vir iemand wat in die volksmond bekendstaan as “met die helm gebore” te wees. Maar wat beteken dit? Die verskynsel dat baba's met die vrugwatersak (helm) oor die kop gebore word, is baie skaars. Flip Loots bespreek dit met 'n geneesheer en twee predikante, en 'n paar mense vertel van hulle belewenis daarvan om met die helm gebore te wees.

    MUSIEK IN DIE ARE: GESLAGTE VAN PAPIER-MUSIEK deur Carla Mackenzie

    Play Episode Listen Later Jul 9, 2026 22:22


    Die Papier Family Band se musiek vertel die verhaal van familie, erfenis en die unieke ritmes wat al geslagte lank deel vorm van Suid-Afrika se musikale geskiedenis. Sedert 1932 weerklink die klanke van die Papier-familie deur Franschhoek se strate. Vandag speel hulle nie net vir hulle gemeenskap nie, maar ook op wêreldverhoë. Hierdie is die verhaal van 'n familie wie se musiek hulle van die Boland tot by die Chelsea Blommeskou in Londen geneem het. Die familie is veral bekend as die Papier Langarm Orkes of Papier Family Band. Die orkes bestaan uit pa, kleinseun en familielede wat 'n musikale nalatenskap voortsit wat deur hulle pa, Marthinus Papier, begin is. Vandag speel Frank Papier (77) die trekklavier en kleinseun Greagan (13) elf instrumente, en so leef meer as 100 jaar se musiekervaring in die familie voort. Greagan is onlangs vir ‘n KKNK KANNA-toekenning benoem vir Beste Musiekspel by die ABSA KKNK 2026.

    'N PADDA IS ‘N DING WAT SPRING, OF NIE? deur Kobus Rudolph

    Play Episode Listen Later Jul 2, 2026 27:09


    Hoekom kry mens paddas in jou huis? Kan ‘n padda muurklim? Hoekom verdrink paddas as hulle amfibieërs is? Kry mens vratjies van paddas? Is paddas giftig? Reën dit paddas as daar dan so baie paddas is wanneer dit reën? Hoekom kwaak ‘n padda? Hoe lank slaap ‘n padda in die winter? Waar bly paddas? Prof. Louis du Preez van die Departement Dierkunde aan die Noordwes-Universiteit doen al vir langer as 30 jaar navorsing op parasiete en paddas. Tydens sy navorsing het hy besef dat van die parasiete in die blase van paddas voorkom. Dit het gelei tot sy intense navorsing op paddas as amfibieërs. Hy en sy mede-navorsers het die afgelope twee dekades dit reggekry om unieke en pragtige, suiwer geluide van 160 verskillende paddaspesies op te neem.

    WAT LAG JY? deur Ina Strydom

    Play Episode Listen Later Mar 26, 2026 23:18


    Humor is so oud soos die berge – en deel van die menslike bestaan. Daar is ook talle genres van humor, en dit word in talle vorme aangebied. Verskeie kenners praat oor lag en humor: waarvoor en hoekom lag mense; wat gebeur in die brein as ‘n mens lag; en hoe word humor deur die tydsgees beïnvloed.

    IN DIE SKADU VAN VERSLAWING deur Jaco de Waal

    Play Episode Listen Later Mar 19, 2026 26:56


    Verslawing begin nie altyd met 'n groot besluit nie. Soms begin dit stil, en voor jy dit besef, het dit jou hele lewe oorgeneem. Jaco de Waal kyk na wat werklik gebeur wanneer iemand verslaaf raak – van die brein se reaksie tot die emosionele en persoonlike stories daaragter. Ons hoor van kenners, mense in herstel en families wat saam die pad stap.

    O, VLOEK! OM TE SWETS OF NIE? deur Esté de Klerk

    Play Episode Listen Later Mar 12, 2026 25:59


    Is jy ‘n chroniese vloeker? Vloek jy nét wanneer jy tussen jou vriende is, en glad nie wanneer jy by jou ma is nie? Swets jy meestal in Afrikaans, of in Engels? Wat bewys die navorsing hieroor? Wat is die kraswoord wat Suid-Afrikaners die meeste gebruik? Gebruik mense vloekwoorde in verskillende sosiale omstandighede om ‘n identiteit aan te neem? Wat presies gebeur in jou brein wanneer jy ‘n vloekwoord uiter? Was daar kraswoorde in die Bybel, wat oor die jare uitvertaal is? En kan die sê van ‘n vloekwoord jou pyn verlig? Esté de Klerk krap so klein bietjie dieper. Sy praat met ‘n taalkundige, ‘n sielkundige, ‘n afgetrede dominee, ‘n skrywer, en iemand wat, nou ja, toevallig bekend geword het omdat sy ‘n vloekwoord gesê het. WAARSKUWING: Daar is inhoud in dié dokumentêr wat sensitiewe luisteraars kan ontstel.

    VRYLOOP: IS DIT WAARLIK “VRY”? deur Martelize Brink

    Play Episode Listen Later Mar 5, 2026 25:32


    Jy koop vryloop, of te wel “free range”-produkte, want jy wil die gesondste moontlike produk eet, of jy gee om vir die lewenskwaliteit van die dier en hulle welsyn. Maar, weet jy wat daardie etiket op die produk waarlik aandui? Beteken vryloop altyd gelukkige diere wat vrylik beweeg? Indien dit wel die geval is, is die diere waarlik gesonder? Is dit gesonder vir jou as verbruiker? Hoe pas hierdie boerderypraktyke in by volhoubare voedselverskaffing?

    DIE SOEKTOG NA LUITENANT MULLER MEIRING SE RATEL deur Kobus Rudolph

    Play Episode Listen Later Feb 26, 2026 27:06


    Honderd en vyf oudsoldate en ouddienspligtes het in 2018 na Angola gereis op die ou paaie van slagvelde en gevegte. Dié toer is aangebied deur 61 Gemeganiseerde Bataljon se Militêre Veteranevereniging. Baie van die mans wroeg al vir jare oor die hartseer en pyn wat hulle as jong seuns ervaar het. Skaars 18 en 19 jaar oud, en hulle moes gaan veg, die dood in die oë staar en ‘n vyand doodmaak. Nog ‘n belangrike rede hoekom sommige op die toer gekom het, was om te gaan soek na Luitenant Muller Meiring se Ratel 72, iewers in die bosse in Angola. Muller se Ratel is op 27 Junie 1988 klaarblyklik deur 'n RPG-vuurpyl getref tydens ‘n dramatiese hinderlaag. Sewe van sy oudmakkers het spesiaal gekom om na die slagveld te kom kyk waar hulle geveg het. Kobus Rudolph praat met Muller se ma, Suzanne Meiring, wat vertel van die geweldige skok, hartseer en trauma. Die Meirings het hulle familieplaas in Verkeerdevlei buite Bloemfontein verkoop, en na Australië verhuis. Hy praat ook met Daniel Potgieter, wat die kanonier op die Ratel was. Hy het langs Muller Meiring gesit toe die vuurpyl hulle tydens die hinderlaag getref het.

    ROGER SEDRES WÊRELDKLAS-SPORTFOTOGRAAF SONDER AANSIT deur Haidee Muller-Isaacs

    Play Episode Listen Later Feb 19, 2026 28:52


    Met verskeie Olimpiese Spele en ander internasionale sportbyeenkomste agter die blad, het Roger baie belangrike oomblikke in Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis vasgevang. Hy is tans Span SA se amptelike sportfotograaf. Roger het ikoniese foto's geneem van Suid-Afrikaanse sportsterre soos Chad le Clos en Wayde van Niekerk by die Olimpiese Spele en ander groot sportbyeenkomste. In 2025 het hy die Sport Visual Journalist of the Year-toekenning by die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings gewen, en hy het in 2022 ook die Fotograaf van die Jaar-toekenning ontvang. Hierdie dokumentêr bied 'n intieme kykie na Sedres se loopbaan, sy benadering tot sportfotografie, en die rol wat sy unieke foto's speel in hoe sport gesien en onthou word.

    HET ONS NOG GROEN VINGERS? deur Tharien Oosthuizen

    Play Episode Listen Later Feb 5, 2026 26:16


    Het jy geweet die krag van groen vingers lê nie net in wat ons kan kweek nie, maar in hoe die praktyk van tuinmaak ons psige voed. Om 'n tuin te beplan, plante te versorg, en te sien hoe saadjies lewe bring, het 'n terapeutiese waarde wat fokus, rus en emosionele stabiliteit bevorder. Tharien Oosthuizrn kry ook praktiese wenke vir tuinmaak in beperkte ruimtes, en hoor wat die waarde van plaaslike kwekerye is vir regte advies en ondersteuning.

    AGTER DIE MUSIEK: VAN SKOUSPEL TOT GROOT deur Wihann Nel

    Play Episode Listen Later Jan 29, 2026 22:41


    Van Huisgenoot Skouspel se glansdae tot Afrikaans is Groot se twee naweke van uitverkoopte vertonings – hierdie dokumentêr neem jou op 'n klankgedrewe reis deur die ontwikkeling van Afrikaanse musiekkonserte in Suid-Afrika. Wihann Nel ondersoek hoe hierdie groot produksies nie net kunstenaars se loopbane gevorm het nie, maar ook 'n hele kultuur van saamwees, trots en emosie met Afrikaanse musiek geskep het. Dié verhaal word vertel met onderhoude, argiefmateriaal en persoonlike stories van hoe die verhoog die hartklop van Afrikaans geword het.

    REUSE WAT REKORDS LAAT SPAT deur Flip Loots

    Play Episode Listen Later Jan 22, 2026 28:05


    Die prestasies van entrepreneur Billy Cowley en haarkapper André Green het hulle elk twee Guinness Book of Records laat behaal. Billy het eers 420 g Marmite binne een uur geëet, en toe ‘n kar vol kankerstrikkies geplak. André het eers binne 24 uur die meeste vroue se hare gesny, en toe onderwater die meeste vroue se hare binne een uur gesny.

    STYL SONDER 'N HAP UIT JOU BEURSIE deur Sue Pyler-Slabbert

    Play Episode Listen Later Sep 25, 2025 26:57


    Jy sal veel eerder 'n motor tweedehands aanskaf as wat jy enige iets anders sommer sal koop, maar hier is 'n wêreld wat jou twee keer sal laat dink. Thrifting of snuffelkoop is 'n florerende, globale verskynsel met 'n mark ter waarde van miljarde, gedryf deur die begeerte na bekostigbare, unieke items, 'n verbintenis tot omgewingsvolhoubaarheid en 'n kulturele verskuiwing weg van kitsmode. Thrifting omvat 'n verskeidenheid praktyke, van liefdadigheidswinkels en vlooimarkte tot saamgestelde vintage-boetieks en aanlyn herverkoopplatforms.

    CHRISTO VAN DER RHEEDE: GOEDGEMAAK OP GOEDVERWACHT deur Haidee Muller-Isaacs

    Play Episode Listen Later Sep 18, 2025 25:57


    Christo van der Rheede is gebore op Goedverwacht, anderkant Piketberg in die Wes-Kaap. Desjare was hy eers ‘n musiekonderwyser en later skoolhoof. Toe beland hy by die Stigting vir Bemagtiging Deur Afrikaans (SBA) as uitvoerende hoof. Later het Christo homself geanker as sleutelfiguur in Suid-Afrika se landbougemeenskap as bestuurshoof van AgriSA, waar hy agt jaar lank betrokke was. Deesdae is hy 'n besoekende professor aan die Universiteit van die Vrystaat, en aan die stuur van sake by die FW de Klerk-stigting. Hy is vanjaar aangestel as voorsitter van die ABSA KKNK. Haidee Muller-Isaacs het saam met hom deur sy geboorteplek, Goedverwacht, se strate gestap, waar die heimwee hom weer beetgekry het.

    EK MIS MY KIND deur Esté de Klerk

    Play Episode Listen Later Sep 11, 2025 26:47


    Ouervervreemding is die ergste vorm van emosionele kindermishandeling wat toegepas kan word, omdat die kind - wat doelbewus deur sy een ouer van sy ander ouer vervreem word - tot só ‘n mate geïndoktroneer word, dat hy of sy gevoelens van haat teenoor die teikenouer begin koester. In die meeste gevalle is hierdie gevoelens ongegrond. Die kort- en langtermyn impak op die kind wat vervreem word, kan verwoestende gevolge hê, en litigasie in die hof is dikwels vir die teikenouer emosioneel en finansieël uitmergelend.

    LAURIKA: LIED VAN 'N LEWE deur Jacqui January

    Play Episode Listen Later Sep 4, 2025 25:21


    'n Dokumentêre program oor die lewe en werk van Laurika Rauch. Van “Kinders van die Wind” tot die hartklop van die land, volg ons haar reis deur musiek, herinnering en menswees. Dis 'n eerbetoon aan 'n ikoon, wat nie net gesing het nie, maar ons laat voel het.

    MATIES-RUGBY 150: ‘N NALATENSKAP WAT INSPIREER deur Jody Hendricks

    Play Episode Listen Later Aug 28, 2025 25:44


    Die bekende Maties-rugbyklub is vanjaar 150 jaar oud - 'n beduidende mylpaal in Suid-Afrika se rugbygeskiedenis. Sedert die klub se ontstaan in 1875 met 'n wedstryd op Die Braak (gespeel met 'n ronde bal) het die klub gegroei tot een van die mees gedugte instellings in die geskiedenis van die spel.

    Bonuspotgooi: DORP VAN DROME, DORP VAN SAAMWERK

    Play Episode Listen Later Aug 21, 2025 28:34


    Tydens die maak van JEFFREYSBAAI: DORP VAN DROME, DORP VAN SAAMWERK het Ilse Salzwedel ook gaan inloer by die Jbay Recycling Project, ‘n nie-regeringsorganisasie wat daarop gemik is om die omgewing rommelvry te hou. Hulle doen dit op ‘n manier wat ook die kinders van Jeffreysbaai bemagtig. Die kinders kry “moolah” in ruil vir alle herwinbare rommel wat hulle insamel. Die “moolah” kan dan by die projek se winkeltjie verruil word vir alles van skoolklere en skryfbehoeftes tot toiletware, kos, speelgoed en klere. Ilse het met die projekhoof, Tanya Lategan, en van die kinders gesels.

    DORP VAN DROME, DORP VAN SAAMWERK deur Ilse Salzwedel

    Play Episode Listen Later Aug 21, 2025 27:15


    Jeffreysbaai is een van die die top-10 branderry-bestemmings ter wêreld, maar ‘n bankrot munisipaliteit het byna veroorsaak dat toeriste die dorp begin vermy het. Toe spring die inwoners self in... Deesdae is dit weer een van die drie gewildste kusdorpe in die land, en ‘n model vir goeie samewerking tussen inwoners en die plaaslike munisipaliteit.

    DURBANVILLE 200: VAN PAMPOENKRAAL TOT DURBANVILLE deur Johan Rademan

    Play Episode Listen Later Aug 14, 2025 28:00


    Durbanville is ‘n landelike dorpie, skaars 25 km van Kaapstad af, wat al die Suiwelboer van die Jaar, Die Graanboer van die Jaar en driemalige Generaal Smutstrofee neffens die betonoerwoud verower het. Die kerk en skool het, soos in baie Suid-Afrikaanse dorpe, ‘n groot rol gespeel in die vorming van die gemeenskappe. In 2026 is dit die 200-tal vir die Durbanville NG gemeente. Die 200ste bestaansjaar van Hoërskool Durbanville sal in 2027 gevier word. Johan Rademan ontrafel ‘n paar geheime uit Durbanville se geskiedenis.

    VAN POOL TOT POOL: ARKTIESE EN ANTARKTIESE SEE-YS deur Martelize Brink

    Play Episode Listen Later Aug 7, 2025 25:42


    See-ys is vir die oseaan se ekostelsel soos grond vir die woud. Wanneer seewater koud genoeg word om te vries, verdryf dit sout, wat veroorsaak dat kanale in die ys vorm. Alge groei binne hierdie kanale, en vorm ‘n integrale basis van die voedselketting. Satellietdata-opnames van see-ys het in 1978 begin. Dit wys groot veranderinge oor die afgelope paar dekades. Watter rol speel see-ys in seestrome, ekostelsels en klimaat?

    MARIA'S MANOR: DIE KUNS EN LEWE VAN PORTCHIE deur Carla MacKenzie

    Play Episode Listen Later Jul 31, 2025 23:27


    Hy is die seun van ‘n groenteboer van die Vrystaat. Sy opgang in die kunswêreld is opspraakwekkend. Carla McKenzie vind uit hoekom Portchie se kuns tot soveel mense spreek. Sy kunswerke is 'n handelsmerk van helder kleure, vorms, fietse, hoenders en blou bome. Die vleulklavier, beelde en skilderye skep ‘n alomteenwoordigheid van vrede in Maria's Manor. Portchie vier vanjaar 35 jaar as skilder.

    AGTER GESLOTE DEURE deur Heindrich Wyngaard

    Play Episode Listen Later Jul 24, 2025 24:54


    Die pandemie van geslagsgeweld in Suid-Afrika word in hierdie dokumentêr deur Heindrich Wyngaard ondersoek. Hy stel ’n aantal vroue aan die woord – ’n politieke wetenskaplike, aktiviste, ’n regsgeleerde, ’n sangeres en ’n oorlewende van GBV. Die joernalis, Julian Jansen, skrywer van Die moord op Deveney Nel, neem ook deel. Heindrich waarsku dat van die vertellings moontlik sensitiewe luisteraars mag pla, maar hy sê dit was nodig om dit in te sluit sodat die harde werklikheid van geslagsgeweld deur die luisteraars ervaar kan word. Hy hoop dit sal luisteraars – veral mans – tot aksie dryf.

    VEELSYDIGE VAKMEESTER: WOUTRINE THERON deur Ina Strydom

    Play Episode Listen Later Jul 17, 2025 27:42


    Aktrise, dosent, skrywer, teaterbeoordelaar, en stigter van die Nasionale Toneelkompetisie is maar net ván die beskrywings wat van Woutrine Theron gegee kan word. Sy het algemene bekendheid verwerf as Grieta in die destydse televisiereeks, Nommer Asseblief; was vir 30 jaar as dosent verbonde aan die destydse Pretoria Technikon, vandag TUT, en het twee boeke op haar kerfstok. Sy het verlede jaar 80 geword, en beplan om nog ‘n boek te skryf en om weer ‘n stuk op die verhoog, haar voorkeurmedium, te doen. Ina Strydom belig enkele van die vele aspekte van haar loopbaan.

    OP ELKE STRAATHOEK: IS DAGGA DIE NUWE WONDERKUUR? deur Jaco de Waal

    Play Episode Listen Later Jul 10, 2025 25:21


    Dagga, vir jare 'n taboe, is nou 'n alledaagse gesprekspunt. Van pynverligting tot geestesgesondheid word cannabis toenemend as 'n natuurlike alternatief voorgestel. Maar hoeveel daarvan is medies geregverdig, en hoeveel is bloot bemarking? Jaco de Waal ondersoek die opkoms van mediese cannabis in Suid-Afrika, en die spanning tussen verwagting, navorsing en werklikheid.

    TACO KAMSTRA: OP SY EIE WERF deur Kobus Rudolph

    Play Episode Listen Later Jul 3, 2025 27:01


    In Taco Kamstra se werf is daar ‘n kerktoring en kerkklok, wat uittroon bo sy vliegtuig in sy voorplaas! ‘n 1919 Model T-Ford, wat nog met ‘n slinger aangedraai word, en vele ander voertuie, begroet die mense wat verby sy huis/museum in Pretoria ry of besoek aflê. Taco moes leer om die miniatuur Sentinel-stoomenjin te stook en te dryf – en in die proses het hy sy broer se woonwa beskadig! Hy het 27 veteraanmotors, waarvan die oudste ‘n 1910 High Wheeler (Elektriese perdekoets) is. Die musiek van ‘n vrolike Westerse Cowboy-kroeg begroet jou as jy in die woonkamer instap, met Taco wat sy Steck Pianola Duo Art trap. Dié honky-tonk-klanke kom uit die 1927-musiekrolle met liedere soos Hawaiian Hearts en Rain. ‘n Handgemaakte ghong uit Nepal en nog ander klokke is musiek in sy ore. Die ou kerkorrel van die NG Kerk Bethal het ook sy plek op Taco se werf ingeneem!

    DIE KLEUR VAN LAKENS deur Tharien Oosthuizen

    Play Episode Listen Later Mar 27, 2025 49:13


    Persone wat trauma beleef is bang en onseker, en het ondersteuning nodig om hulle deur hierdie donker tyd te neem. Dit is hier waar traumaberaders ‘n baie belangrike rol speel. Hulle is die spreekbuis tussen die familie, die pasiënt, en die traumachirurg. Tharien Oosthuizen het tyd spandeer met Rian Steenkamp, ‘n traumaberader by Netcare Milpark in Johannesburg, en met drie mense wat deur trauma geraak is.

    TAFELBERG SE KABELKAR deur Johan Rademan

    Play Episode Listen Later Mar 20, 2025 25:05


    Die afgelope 96 jaar word Tafelberg se kabelkar ingespan om mense en goedere op en af te laat ry. Johan Rademan het in die skadu van ou Tafelberg gaan kuier.

    LIEDJIEBOER: DIE ANTON GOOSEN-VERHAAL deur Ettienne Ludick

    Play Episode Listen Later Mar 6, 2025 29:42


    Ettienne Ludick vat die pad Gansbaai toe, waar hy delf in die ryk geskiedenis van 'n lewende legende. Van sy dae op skool toe 'n sielkundige vir hom gesê het musiek is nie vir hom beskore is, tot sy jongste album, Sirkels, met 'n 49 jaar lange reis tussen in. Anton Goosen vertel sy storie nes 'n liedjieboer kan.

    DIE PROBLEMATIEK VAN PAROOL deur Ilse Salzwedel

    Play Episode Listen Later Feb 27, 2025 26:29


    Ilse Salzwedel ondersoek ‘n kwessie wat die laaste paar maande dikwels voorbladnuus gehaal het: Behoort geweldsmisdadigers parool te kry, of nie? (Die program is nie geskik vir sensitiewe luisteraars of kinders nie, aangesien dit beskrywings van geweld bevat)

    SWARTKOPS-SOUTPANNE: VAN SEE TOT SOUT deur Jacques Arendt

    Play Episode Listen Later Feb 20, 2025 21:44


    Langs die kus van die Oos-Kaap, waar die Swartkopsrivier sy sout water in die see uitstort, lê 'n storie gewortel in die aarde, die see, en die hande van mense. Dit is die verhaal van Swartkops-seesout – 'n natuurlike skat wat met geduld en sorg geskep word. Jacques Arendt neem jou op 'n reis na hierdie unieke plek, waar tradisie, natuur, en gemeenskap hand aan hand gaan. Seesout het al vir eeue 'n belangrike rol gespeel in die geskiedenis van Swartkops. Die inheemse bewoners was die eerste mense wat sout as 'n waardevolle hulpbron gebruik het. Hulle het dit nie net gebruik om kos te geur nie, maar ook as middel om voedsel te preserveer.

    DIE SKATKIS VAN DIE SAUK deur Elsje van Jaarsveld

    Play Episode Listen Later Feb 13, 2025 25:34


    Iewers in ‘n kelder by die nasionale uitsaaisentrum in Aucklandpark lê ‘n skatkis. ‘n Skatkis met pêrels van uitsaaiwese, wat strek oor langer as ‘n eeu. Dié skatte behoort aan elke Suid-Afrikaner. Dis volksbesit. Elsje van Jaarsveld ontdek weer hierdie juwele. Hier tref sy die voetspoere van wêreldklas joernaliste en vermaaklikheidsterre van ouds aan. Dis ‘n roete tussen geskiedenis, mensestories, opinies en ligte oomblikke, wat weer herleef word. Die argief is nie net ‘n plek waar ou opnames geberg word nie. Dit is ‘n plek waar ou stories, nie oud word nie.

    HIER VOLG DIE NUUS deur Ina Strydom

    Play Episode Listen Later Jan 30, 2025 25:28


    Mariëtta Kruger se uitsaailoopbaan strek oor meer as vier dekades, en sy is ewe bekend op radio as op televisie. Sy is bekend vir haar keurige taalgebruik, haar werksetiek en uiterste professionaliteit, en haar kundigheid.

    JAMESTOWN: 'N STUKKIE PARADYS deur Haidee Muller-Isaacs

    Play Episode Listen Later Jan 23, 2025 29:13


    Haidee het afgesit na Jamestown, ook bekend as Webersvallei, 'n hegte gemeenskap met 'n ryk erfenis. Daar het sy die mooiste stories gehoor van ‘n gemeenskap wat passievol is oor dié dorpie aan die buitewyke van Stellenbosch. Vandag nog deel hulle in mekaar se lief en leed.

    DIE VERDWYN VAN DIE AFRIKAPIKKEWYN deur Martelize Brink

    Play Episode Listen Later Jan 16, 2025 24:46


    Volgens sommige omgewingskundiges is dit nie meer ‘n vraag of die brilpikkewyn, ook bekend as die Afrikapikkewyn, sal uitsterf nie. Die pikkewyn, endemies tot Afrika, is krities bedreig. Met só min individuele voëls in die natuur, sal die bevolking funksioneel uitgesterf wees teen 2035. Martelize Brink besoek ‘n skuiling vir die brilpikkewyn; bespreek die druk waaronder die spesie tans probeer oorleef met verskeie wetenskaplikes; en vra die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing watter regulasies in plek is om die spesie te red. Sy praat ook met die Biodiversiteit Regsentrum oor hulle hofsaak teen die departement.

    KAALKOP DIE WAARHEID deur Flip Loots

    Play Episode Listen Later Jan 9, 2025 24:58


    Watter invloed het haarverlies op veral jonger mans se emosionele ingesteldheid? Is daar hoop dat iets aan die kaalkoppe gedoen kan word? Flip Loots  het die antwoorde gaan soek by ‘n haarkapper, ‘n dermatoloog, ‘n sielkundige en ‘n verteenwoordiger van ‘n maatskappy wat hulp in dié verband verleen.

    DIE BERGKLUB VAN SUID-AFRIKA deur Kobus Rudolph

    Play Episode Listen Later Jan 2, 2025 26:59


    Die Bergklub van Suid-Afrika is een van die oudste bergklubs in die wêreld, met 6 000 lede wat passievol is oor die natuur, bewaring, berge, stap, klim, rotsklim, die buitelewe en gewaagde vryklim. Hulle soek- en reddingspanne is die mense wat dwarsoor die land verantwoordelik is vir soek- en reddingsoperasies in die die berge, veld en afgeleë plekke. Deel van elke lid se taak is om die bergklub se gebied te patrolleer vir oortreders, soos stappers of klimmers wat onwettig kamp. Bykans elke naweek is daar spanne op verskeie plekke besig om indringerplante en onkruid uit te roei. Op sommige plekke word tussen 70 tot 100 wildstrikke per naweek uitgehaal. Natuurbewaring is een van die hoofdoelstellings van die klub.

    WEESKINDERS: DIE MENSE VAN PLATFONTEIN deur Fritz Klaaste en Johann Pieterse

    Play Episode Listen Later Sep 26, 2024 57:51


    Die !Xu en Khwe het in vrede en harmonie geleef in die suide van Angola en die noorde van Namibië. Die Portugese Weermag het hierdie natuurmense opgekommandeer om saam met hulle te veg in die Angolese Vryheidsoorlog van die jare 70. Met die onttrekking van Portugese troepe uit Angola, is hulle ‘n nuwe bataljon van SA Weermag, 31 Bataljon, opgeneem. In die periode voor Namibiese onafhanklikheidswording, het hulle ‘n kopseer geword, totdat die Verenigde Nasies se gesant, Martti Ahtisaari, ingestem het om hulle vry te stel sodat hulle in Suid-Afrika hervestig kon word. Die soldate en hulle gesinne is tydelik in ‘n tentedorp gevestig in Schmidtsdrift, 80 km buite Kimberley. ‘n Grondeis het die Weermag laat besluit om die gemeenskap te hervestig. Die !Xu en Khwe sou uiteindelik vir tien jaar in hierdie tentedorp leef, tot president Nelson Mandela ‘n titelakte van eienaarskap van Platfontein in Mei 1999 aan hulle oorhandig het. Hierdie hoorbeeld vertel hulle storie van ontworteling en verwerping, en hulle stryd met integrasie.

    OP SOEK NA LEVONA: DIE ZEPHANY NURSE-VERHAAL deur Heindrich Wyngaard

    Play Episode Listen Later Sep 19, 2024 23:37


    Heindrich Wyngaard herbesoek die Zephany Nurse-verhaal. Sy is in 1997 as ‘n drie dae oue baba uit die hospitaal gesteel, en is in 2015 as ‘n matrikulant met haar biologiese ouers herenig. Haar steelma is in 2016 tot tien jaar tronkstraf gevonnis, en is ‘n jaar gelede op parool vrygelaat. Heindrich het in 2015 die eerste boek oor die gebeure geskryf, A HOME FOR ZEPHANY (Naledi Uitgewers). Hy het oor die jare met Zephany in verbinding gebly. In hierdie dokumentêr praat hy met haar, asook met Rachel Waterloo (‘n oudkollega van Levona Solomon) en die joernalis Kevin-John Brand.

    DIE NALATENSKAP VAN JERRY WATT EN DIE ROCKETS deur Carla Mackenzie

    Play Episode Listen Later Sep 12, 2024 24:14


    Carla Mackenzie kyk na die kleurvolle geskiedenis van wyle Jerry Watt en die internasionaal bekende The Rockets. Dié groep van vyf mans het op die Kaapse Vlakte begin, maar het later jare die verhoog gedeel met internasionale musiektalent soos Usher, Luther Vandross en selfs die Spice Girls! Vir die eerste keer sedert 1971 het die groep sonder Jerry Watt die verhoog betree. Jerry Watt se kleinkind volg in sy oupa se voetspore, en sorg dat die musiek aanhou speel. In hierdie dokumentêr gesels Jerry se vrou, Alison, oor die nalatenskap wat haar oorlede man en The Rockets vir die geslagte nagelaat het. Manuel Losper, sy jarelange vriend, en lid van die Rockets gesels saam. Dr. Victor deel ook herinneringe.

    Claim RSG Dokumentêr

    In order to claim this podcast we'll send an email to with a verification link. Simply click the link and you will be able to edit tags, request a refresh, and other features to take control of your podcast page!

    Claim Cancel