'n Reeks dokumentêre programme deur 'n span gesoute RSG en SABC omroepers en joernaliste
Persone wat trauma beleef is bang en onseker, en het ondersteuning nodig om hulle deur hierdie donker tyd te neem. Dit is hier waar traumaberaders ‘n baie belangrike rol speel. Hulle is die spreekbuis tussen die familie, die pasiënt, en die traumachirurg. Tharien Oosthuizen het tyd spandeer met Rian Steenkamp, ‘n traumaberader by Netcare Milpark in Johannesburg, en met drie mense wat deur trauma geraak is.
Die afgelope 96 jaar word Tafelberg se kabelkar ingespan om mense en goedere op en af te laat ry. Johan Rademan het in die skadu van ou Tafelberg gaan kuier.
Ettienne Ludick vat die pad Gansbaai toe, waar hy delf in die ryk geskiedenis van 'n lewende legende. Van sy dae op skool toe 'n sielkundige vir hom gesê het musiek is nie vir hom beskore is, tot sy jongste album, Sirkels, met 'n 49 jaar lange reis tussen in. Anton Goosen vertel sy storie nes 'n liedjieboer kan.
Ilse Salzwedel ondersoek ‘n kwessie wat die laaste paar maande dikwels voorbladnuus gehaal het: Behoort geweldsmisdadigers parool te kry, of nie? (Die program is nie geskik vir sensitiewe luisteraars of kinders nie, aangesien dit beskrywings van geweld bevat)
Langs die kus van die Oos-Kaap, waar die Swartkopsrivier sy sout water in die see uitstort, lê 'n storie gewortel in die aarde, die see, en die hande van mense. Dit is die verhaal van Swartkops-seesout – 'n natuurlike skat wat met geduld en sorg geskep word. Jacques Arendt neem jou op 'n reis na hierdie unieke plek, waar tradisie, natuur, en gemeenskap hand aan hand gaan. Seesout het al vir eeue 'n belangrike rol gespeel in die geskiedenis van Swartkops. Die inheemse bewoners was die eerste mense wat sout as 'n waardevolle hulpbron gebruik het. Hulle het dit nie net gebruik om kos te geur nie, maar ook as middel om voedsel te preserveer.
Iewers in ‘n kelder by die nasionale uitsaaisentrum in Aucklandpark lê ‘n skatkis. ‘n Skatkis met pêrels van uitsaaiwese, wat strek oor langer as ‘n eeu. Dié skatte behoort aan elke Suid-Afrikaner. Dis volksbesit. Elsje van Jaarsveld ontdek weer hierdie juwele. Hier tref sy die voetspoere van wêreldklas joernaliste en vermaaklikheidsterre van ouds aan. Dis ‘n roete tussen geskiedenis, mensestories, opinies en ligte oomblikke, wat weer herleef word. Die argief is nie net ‘n plek waar ou opnames geberg word nie. Dit is ‘n plek waar ou stories, nie oud word nie.
Mariëtta Kruger se uitsaailoopbaan strek oor meer as vier dekades, en sy is ewe bekend op radio as op televisie. Sy is bekend vir haar keurige taalgebruik, haar werksetiek en uiterste professionaliteit, en haar kundigheid.
Haidee het afgesit na Jamestown, ook bekend as Webersvallei, 'n hegte gemeenskap met 'n ryk erfenis. Daar het sy die mooiste stories gehoor van ‘n gemeenskap wat passievol is oor dié dorpie aan die buitewyke van Stellenbosch. Vandag nog deel hulle in mekaar se lief en leed.
Volgens sommige omgewingskundiges is dit nie meer ‘n vraag of die brilpikkewyn, ook bekend as die Afrikapikkewyn, sal uitsterf nie. Die pikkewyn, endemies tot Afrika, is krities bedreig. Met só min individuele voëls in die natuur, sal die bevolking funksioneel uitgesterf wees teen 2035. Martelize Brink besoek ‘n skuiling vir die brilpikkewyn; bespreek die druk waaronder die spesie tans probeer oorleef met verskeie wetenskaplikes; en vra die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing watter regulasies in plek is om die spesie te red. Sy praat ook met die Biodiversiteit Regsentrum oor hulle hofsaak teen die departement.
Watter invloed het haarverlies op veral jonger mans se emosionele ingesteldheid? Is daar hoop dat iets aan die kaalkoppe gedoen kan word? Flip Loots het die antwoorde gaan soek by ‘n haarkapper, ‘n dermatoloog, ‘n sielkundige en ‘n verteenwoordiger van ‘n maatskappy wat hulp in dié verband verleen.
Die Bergklub van Suid-Afrika is een van die oudste bergklubs in die wêreld, met 6 000 lede wat passievol is oor die natuur, bewaring, berge, stap, klim, rotsklim, die buitelewe en gewaagde vryklim. Hulle soek- en reddingspanne is die mense wat dwarsoor die land verantwoordelik is vir soek- en reddingsoperasies in die die berge, veld en afgeleë plekke. Deel van elke lid se taak is om die bergklub se gebied te patrolleer vir oortreders, soos stappers of klimmers wat onwettig kamp. Bykans elke naweek is daar spanne op verskeie plekke besig om indringerplante en onkruid uit te roei. Op sommige plekke word tussen 70 tot 100 wildstrikke per naweek uitgehaal. Natuurbewaring is een van die hoofdoelstellings van die klub.
Die !Xu en Khwe het in vrede en harmonie geleef in die suide van Angola en die noorde van Namibië. Die Portugese Weermag het hierdie natuurmense opgekommandeer om saam met hulle te veg in die Angolese Vryheidsoorlog van die jare 70. Met die onttrekking van Portugese troepe uit Angola, is hulle ‘n nuwe bataljon van SA Weermag, 31 Bataljon, opgeneem. In die periode voor Namibiese onafhanklikheidswording, het hulle ‘n kopseer geword, totdat die Verenigde Nasies se gesant, Martti Ahtisaari, ingestem het om hulle vry te stel sodat hulle in Suid-Afrika hervestig kon word. Die soldate en hulle gesinne is tydelik in ‘n tentedorp gevestig in Schmidtsdrift, 80 km buite Kimberley. ‘n Grondeis het die Weermag laat besluit om die gemeenskap te hervestig. Die !Xu en Khwe sou uiteindelik vir tien jaar in hierdie tentedorp leef, tot president Nelson Mandela ‘n titelakte van eienaarskap van Platfontein in Mei 1999 aan hulle oorhandig het. Hierdie hoorbeeld vertel hulle storie van ontworteling en verwerping, en hulle stryd met integrasie.
Heindrich Wyngaard herbesoek die Zephany Nurse-verhaal. Sy is in 1997 as ‘n drie dae oue baba uit die hospitaal gesteel, en is in 2015 as ‘n matrikulant met haar biologiese ouers herenig. Haar steelma is in 2016 tot tien jaar tronkstraf gevonnis, en is ‘n jaar gelede op parool vrygelaat. Heindrich het in 2015 die eerste boek oor die gebeure geskryf, A HOME FOR ZEPHANY (Naledi Uitgewers). Hy het oor die jare met Zephany in verbinding gebly. In hierdie dokumentêr praat hy met haar, asook met Rachel Waterloo (‘n oudkollega van Levona Solomon) en die joernalis Kevin-John Brand.
Carla Mackenzie kyk na die kleurvolle geskiedenis van wyle Jerry Watt en die internasionaal bekende The Rockets. Dié groep van vyf mans het op die Kaapse Vlakte begin, maar het later jare die verhoog gedeel met internasionale musiektalent soos Usher, Luther Vandross en selfs die Spice Girls! Vir die eerste keer sedert 1971 het die groep sonder Jerry Watt die verhoog betree. Jerry Watt se kleinkind volg in sy oupa se voetspore, en sorg dat die musiek aanhou speel. In hierdie dokumentêr gesels Jerry se vrou, Alison, oor die nalatenskap wat haar oorlede man en The Rockets vir die geslagte nagelaat het. Manuel Losper, sy jarelange vriend, en lid van die Rockets gesels saam. Dr. Victor deel ook herinneringe.
In Desember 2023 was daar 1 334 174 asielsoekers en vlugtelinge in Suid-Afrika. Martelize Brink gee perspektief met verwysing na die internasionale konteks van vlugtelinge. Die fokus is op internasionale en plaaslike politiek, gemeenskapsorganisasies en die mense wat moes vlug. Hoe hervestig vlugtelinge hulleself, soms binne ‘n land waar hulle nie enige van die gebruikstale kan praat nie? (Die program bevat onstellende inhoud, en is nie geskik vir kinders of sensitiewe luisteraars nie. Met dank aan SABC Nuus en Al Jazeera vir nuusklank.)
Die akteurspaar, Carel Trichardt en Petru Wessels, is ses dekades in die bedryf – en net so lank getroud. Hulle vertel van hoogtepunte in hulle loopbane, rn praat oor kompetisie, toewyding en ouderdom, en die belangrikheid van stories. Hulle vertel ook hoe ‘n mens só lank getroud bly.
Die meeste ouers het hulle kinders se beste belange op die hart. Deel hiervan is die kind se toekoms. Waarheen is hulle op pad, watter geleenthede kan jy hulle bied? Soms kry jy die kans om jou kind met behulp van ‘n beurs na ‘n beter skool te stuur. Of om ‘n talentvolle kind ‘n helpende hand uit hulle omstandighede aan te bied. Help dit werklik op die lange duur?
In St. Helenabaai, 'n skilderagtige vissersdorpie aan die Weskus van Suid-Afrika, is daar 'n groep vroue wat naby die hawe sit en visnette regmaak. Lizelle de Bruin het ‘n dag by hulle spandeer om meer oor die bedryf te leer. Jou eie skêr, ‘n mes, ‘n lang dik naald, groen, rooi en oranje plastiekgaring en ‘n vaardigheid wat oor jare vasgelê is, is die gereedskap van die visnetvroue, wat in wind en weer op hulle pos is om te verseker dat groot vangste veilig in die boot gepomp kan word. Lizelle het ook by Bertie Burger in Laaiplek gaan aanklop om te hoor hoekom ‘n visnet so belangrik is.
Wie ken nie padwoede nie? Wanneer ‘n voertuig voor jou inswaai of skielik rem, is dit moeilik om nie handgebare te maak en selfs te skel nie. Flip Loots praat hierooe met kliniese sielkundige, dr. Philip Janse van Rensburg, ‘n verteenwoordiger van Arrive Alive, advokaat Johan Jonck, asook ‘n paar padverbruikers.
Haidee Muller-Isaacs neem jou op 'n nostalgiese reis na die oorsprong van die Jukebox, lank voor musiekstroomdienste beskikbaar was. Waar kom hierdie blêrkaste vandaan, en hoekom het Suid-Afrika die invoer daarvan in 1949 verbied? Daar is deesdae weer 'n oplewing van belangstelling in ouer blêrkaste onder versamelaars en entoesiaste.
Die vinnige vooruitgang van kunsmatige intelligensie is besig om die manier waarop ons werk, te hervorm. Elsje van Jaarsveld delf in hierdie fassinerende verskuiwing, deur te verken hoe alledaagse mense kunsmatige intelligensie in hulle werk en besighede integreer om produktiwiteit en doeltreffendheid te verhoog. Vir besighede bied die integrasie van KI ‘n uiters suksesvolle geleentheid om koste te bespaar. Maar wat sal die gevolge wees indien ‘n individu dit nie aanvaar en omarm nie? Wat hou dit vir so ‘n persoon in die werksplek in? Waar moet die mens steeds oordeel of die masjien reg of verkeerd is? Sal kunsmatige intelligensie uiteindelik ons werk oorneem?
Damprook het ‘n enorme probleem onder kinders jonger as 18 in Suid-Afrika geword. Wat dit moeilik maak vir opvoeders, is dat anders as rook, damprook nie onmiddelik geruik kan word nie. Ettienne Ludick kyk na die voorkoms van damprook, die gevare en watter rol groepsdruk speel. ‘n Ma en dogter deel hulle ondervinding nadat dit aan die lig gekom het dat die kind damprook.
Derrich Gardner "gesels" met Al Debbo. Die SAUK se argief het 'n paar ou onderhoude bewaar, en Derrich het Al se stem gebruik om sy vrae te beantwoord. Hulle was nooit saam in die ateljee nie. Dis 'n kort reis deur die lewe van 'n geliefde legende wat Suid-Afrikaners laat skaterlag het. Tydens sy musiekloopbaan het hy ‘n groot aantal langspeelplate en solus sewes uitgereik, asook twee CD's. As akteur was hy immergewild, en 'n wenner op die lagverhoog en silwerskerm. Hy is op 13 Julie 2011 in Bloemfontein oorlede. Hy was 87 jaar oud.
Dr. Allan Boesak het ‘n groot rol in die bevrydingsstryd gespeel - in die kerk, politiek en op gemeenskapsvlak. Hy het ook internasionaal bekendheid verwerf. Hy praat oor sy reis en rol as kerkman en aktivis.
Suid-Afrika het op 2 Februarie 1990 onherroeplik verander met aankondiging deur die destydse president FW De Klerk dat Nelson Mandela ná 27 jaar uit die tronk vrylaat sal word, en dat politieke organisasies soos die ANC, PAC en AZAPO nie meer verban is nie. Onderhandelinge tussen die NP, ANC en ander politieke partye het kort daarna begin oor die pad vorentoe vir ‘n nuwe Suid Afrika. Roelf Meyer kyk terug na die proses om Suid-Afrika van ‘n apartheidstaat na ‘n demokrasie te neem, en hoe hoe naby die land aan ‘n burgeroorlog was. Hy vertel ook van die impak wat FW De Klerk en Nelson Mandela op hom gehad het.
Sedert Fokofpolisiekar hulle verskyning in 2003 gemaak het, het hulle die Afrikaanse musiekbedryf in 'n ander rigting gedwing. Terwyl konserwatiewes warm onder die kraag was, het duisende ondersteuners die groep gevolg, honger vir 'n verandering in Afrikaans en sy musiek. Fokofpolisiekar vier in 2024 hulle mondigwording… 21 jaar van nié die norm wees nie. Ettienne Ludick het met die lede gesels oor hulle reis van langer as twee dekades - die goed, die sleg, die weer begin, en die enorme impak van die vyf bendelede van Belville…
Op Oujaarsaand in 2018 breek ‘n verwoestende brand op Wuppertal in die Cederberge uit. Skaars twee jaar later oorstroom die Tra-trarivier die Morawiese sendingdorpie. Johan Rademan het die RSG-mikrofoon tot in die hartjie van die 1830-dorpie geneem, en met gemeenskapsleier Barend Salamo as gids, gekyk hoe sake nou staan. Hulle het ook van die 16 buiteposte besoek tussen asemrowende rotsgesteentes. Tussen rooibos en askoek in jou Wuppertal-vellies sal jy jubel en juig en rieldans wanneer jy die Woeperdallers hoor praat.
Koorsang is byna so oud soos die mensdom self, en deur die eeue heen betower dit gehore en begeester sangers. Die geheim van koorsang lê in die vermoë om die verskillende sangers in harmonie te laat sing. Die kuns om dié stemsoorte en individue met verskillende agtergronde en uit verskillende kulture te laat saamsmelt tot 'n eenheid, is die kuns van die alchemis: die dirigent. Twee koorleiers wat by uitstek dié vermoë het, is die stigter van die Libertas-koor, prof. Johan de Villiers, en Renette Bouwer van onder andere die UJ-koor.
Haidee Muller-Isaacs diep stories op van vergete musiekskatte uit Distrik Ses, die kleurryke gebied in Kaapstad se middestad in die jare 60. Dit plaas die kollig op musiekstories van talentvolle musieklegendes uit dié multikulturele woonbuurt, sommiges wat in weerwil van hulle talent, nooit genoeg blootstelling gekry het nie.
Alle mense droom, maar nie almal onthou hulle drome nie. Wat is drome? Hoekom laat party jou glimlag, en ander word nagmerries? Het drome betekenis? Wat gebeur wanneer jy droom? Hou drome verband met wat ek elke dag beleef? Het dit ook godsdienstige betekenis? Flip Loots het by kundiges soos prof. Kobus Maree, prof. Marius Nel en Esté Geldenhuys gaan kers opsteek.
Tien jaar gelede, enkele dae voor die bekroonde digter en akademikus, TT Cloete, se 90e verjaarsdag, het hy met Ina Strydom gepraat oor sy lewe en werk; oor sy digterskap en ouderdom, en oor genade. Dié heruitsending van die profieldokumentêr is as huldiging van dié merkwaardige mens, wat vanjaar 100 jaar oud sou wees.
Elsje van Jaarsveld ondersoek die verskynsel van uitbranding, wat al hoe meer voorkom. Profesionele persone, van sielkundiges tot mode-ontwerpers, deel hulle ervarings, wat wys dat hierdie probleem nie beperk is tot 'n spesifieke beroepsgroep nie, maar eerder 'n universele uitdaging is op verskeie lewensterreine. Daar is ook insigte van akademici en kundiges, wat 'n wetenskaplike perspektief bied.
Die fokus van hierdie dokumentêr is rugbyspelers wat oor die X-faktor beskik is. Wat onderskei spelers met vlugvoetigheid of flair, en wie was hulle voorgangers?
Navorsing deur die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie beraam dat Suider- en Oos-Afrika jaarliks in die omgewing van R12,2 miljard aan onwettige en ongerapporteerde visvang verloor. Hulle skat verder dat 85% van visvoorrade wêreldwyd nou ten volle ontgin word, en onwettige visvang is een van die hoofbydraers. Wie neem die voortou om die oplossing te vind?
Vanaand val die soeklig op Side Hustles (oftewel kantjoppies). In ‘Kontant op die kantlyn' ‘n dokumenter deur Renaldo Schwarp, bekyk media persoonlikheid en RSG omroeper hierdie besigheidsvorm van nader. ‘Side Hustles' is soveel meer as net ekstra inkomste verdien, dit is ‘n manier hoe alledaagse Suid-Afrikaners hul eie verhale herskryf.
Kuier saam met gesoute joernalis, Marize de Klerk, op die jukskeibaan en vind uit hoe jukskei oor die afgelope bykans 3 eeue van uitspanspeletjie tot internasionaal erkende sportkode ontwikkel het en beoefen en geniet word.
Bendegeweld, dwelmmisbruik, intimidasie, moord en disfunksionele gesinne op die Kaapse Vlakte kom onder die vergrootglas. Inwoners van die Vlakte vertel van die gespanne en hartseer omstandighede waaronder mense daar leef. Is daar hoop?
Bendegeweld, dwelmmisbruik, intimidasie, moord en disfunksionele gesinne op die Kaapse Vlakte kom onder die vergrootglas. Inwoners van die Vlakte vertel van die gespanne en hartseer omstandighede waaronder mense daar leef. Is daar hoop?
Bendegeweld, dwelmmisbruik, intimidasie, moord en disfunksionele gesinne op die Kaapse Vlakte kom onder die vergrootglas. Inwoners van die Vlakte vertel van die gespanne en hartseer omstandighede waaronder mense daar leef. Is daar hoop?
Die sopraan, Emma Renzi, was die eerste Suid-Afrikaner wat in die La Scala Operahuis in Milaan gesing het. En om in dié heiligdom van opera suksesvol te wees, vereis baie harde werk en toewyding. Sy het op 8 April vanjaar 97 jaar oud geword.
Goedkoop, maklik om te vervaardig, hoogsverslawend, destruktief. Tik-, of metamfetamien-afhanklikheid, verwoes Suid-Afrika se klein dorpies. Die persepsie dat dwelms meer misbruik word in Sodom en Gomorra, die groot stede van die wêreld, is ‘n mite.
‘n Filosofiese ondersoek na mense se eenders en anders wees, en hoe dit op verskillende vlakke van die wetenskap, taal, politiek en kuns uitspeel. In 'n wêreld waar ons toenemend met mekaar verbind word, is dit belangrik om die fundamentele vraag van menslike gelykheid en die gedeelde ervarings wat ons saambind, te ondersoek. Dis ‘n simfonie van gedagtes wat sy ontstaan het by 'n kunswerk, en wye draaie geloop het in die lewe van mense wat saam gedink het oor of ons eenders of anders is.