POPULARITY
24 Augustus 2026: Die Wes-Kaapse polisiekommisaris, luitenant-generaal Sizakhele Dyantyi, besoek Knysna ná die moord op drie ANC-lede. Die ANC onthul sy verkiesingsmanifes, met die klem op dienslewering en skoon regering. Die bokslegende Zolani Tete sal Saterdag te ruste gelê word tydens 'n gedenkdiens by die KuGompu-stadsaal in die Oos-Kaap.
Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur sê drie mense wat probeer het om ongemagtigde toegang tot die 46ste beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Durban te verkry, is in hegtenis geneem. Twee Kongolese burgers is Saterdag in hegtenis geneem nadat hulle probeer het om toegang tot die lokaal te verkry met akkreditasie wat nie aan hulle uitgereik is nie. Verlede week is 'n Zimbabwiese burger ook in hegtenis geneem nadat hy na bewering probeer het om akkreditasie te bekom onder die dekmantel van 'n uitvoerende kunstenaar. Nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê ontwrigting sal nie geduld word nie:
Die All Blacks se volgende, en derde kragmeting in die Rugby's Greatest Rivalry-toer is Saterdag teen die Bulle in Pretoria, voor volgende naweek se eerste toets teen die Springbokke op Ellispark. Tot dusver is hulle onoorwonne. Die president van die Suid-Afrikaanse Blou Bulle, Willem Strauss sê hulle is opgewonde om die All Blacks hierdie Saterdag te pak ná 50 jaar op Loftus. Strauss het eksklusief met Kosmos 94.1 Nuus gesels.
Rugby: Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie, sê spelers kan steeds die groep haal vir die eerste toets teen die Springbokke, afhangende van hulle vertoning teen die Bulle. Hy het ʼn sterk groep aangewys vir môre se kragmeting op Loftus, maar sê dit verskil aansienlik van die een vir volgende Saterdag se toets op Ellispark. Rennie erken hy het 'n dilemma met posisies soos skrumskakel, slot, losvoorspeler en vleuel:
Die Bulle-afrigter, Johan Ackermann, sê hulle sien uit na die geleentheid om Saterdag op Loftus Versfeld teen die All Blacks kragte te meet. Die Bulle moes hulle voor-seisoen verdeel om hierdie eenmalige wedstryd te speel, omdat hulle gewoonlik pas sou terugkeer van hul blaaskans tussen seisoene. Die All Blacks het die Stormers en die Haaie verslaan in hulle twee openingswedstryde van die Rugby's Greatest Rivalry-toer. Ackermann sê hy sou graag sommige spelers wedstryd-fiks wou kry:
Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê byna die volle groep is fiks en beskikbaar vir die eenmalige toets teen Argentinië volgende naweek in Buenos Aires. Ox Nché en Franco Mostert is nie deel van die span vir Suid-Amerika nie, maar spelers soos kaptein Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Lood de Jager en Sacha Feinberg-Mngomezulu is terug na 'n lang afwesigheid. Ses-en-twintig Springbokke reis Saterdag na Argentinië. Erasmus sê die fokus is nou geheel en al op Los Pumas:
Die Amerikaanse weermag het Sondagaand die negende agtereenvolgende nag aanvalle op Iran uitgevoer. Dit volg nadat ʼn Amerikaanse soldaat Saterdag in die noorde van Irak dood is, en twee ander Vrydag gesterf het tydens aanvalle in Jordanië. Amerika se Sentrale Bevel sê die aanvalle sal voortgaan om Iran se militêre vermoë te vernietig. President Donald Trump sê hy is jammer oor die Amerikaanse weermaglede wat in die oorlog teen Teheran omgekom het. Tot dusver is 17 Amerikaanse soldate in die oorlog dood:
Die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo, Violet Mathye, het haar skok uitgespreek nadat twee ongelukke in die Sekhukhune-distrik Saterdag 14 lewens geëis het. Die departement se woordvoerder, Dali Tshifhiwa, sê in die eerste ongeluk is vyf mense dood op die R-555 naby Stoffberg in die Elias Motsoaledi-munisipaliteit. Nog nege het omgekom in 'n botsing op die D-4370 in die Phokwane-munisipaliteit:
Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, het die wêreldgemeenskap gevra om oudpresident Nelson Mandela se visie van 'n regverdige, inklusiewe, gelyke en vreedsame wêreld uit te leef. Hy het Saterdag op Nelson Mandela Internasionale Dag beklemtoon dat die bekamping van armoede nie liefdadigheid is nie, maar 'n daad van geregtigheid en gesamentlike verantwoordelikheid. Guterres sê hy was nog altyd geïnspireer deur Madiba se lewe en oortuiging dat alles moontlik is wanneer mense saamstaan:
Dit is die naweek die vyfde RMB Brandberg Backyard Ultra, die uiters gewilde ultra-marathon waar deelnemers elke uur 'n loep van 6,7 kilometer moet voltooi tot net een deelnemer oorbly. Kosmos 94.1 saai ook Saterdag regstreeks vanaf Uis uit om jou op hoogte te hou. Organiseerder Riana Scholtz sê daar is vanjaar 'n rekord-aantal inskrywings.
Rugby: Die twintigjarige losskakel, Vusi Moyo, erken dit was onwerklik om te hoor dat hy Saterdag sy Springbok-buiging in Durban sal maak. Hy is een van vier nuwelinge wat teen Wallis gaan speel in die derde ronde van die Nasieskampioenskap. Moyo se senior beroepsbuiging was verlede jaar vir die Haaie in die Curriebeker, en hy het vanjaar sy eerste Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Zebre gespeel. Hy sê hy is gereed vir Saterdag:
Elmero Strauss gesels met Riaan Smit oor die opkomende Johnny Cash Tribute Show wat hierdie Saterdag by WHS plaasvind. Die gesprek fokus op die tydlose musiek van die legendariese Johnny Cash en wat gehore by die vertoning kan verwag.
Springbok-hulpafrigter, Deon Davids, sê die Barbarians se unieke identiteit en oorvloed van wêreldklas-talent maak van hulle 'n bedreiging wat enige internasionale span kan laat struikel. Die Bokke sal Saterdag in Gqeberha teen die Barbarians uitdraf, wat die All Blacks-legende, TJ Perenara, en die Suid-Afrikaans gebore Skotse vleuel, Duhan van der Merwe, insluit. Davids sê hul hoofdoelwit is om hul eie vordering te evalueer na 'n lang tyd van voorbereiding:
Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die bestuur van spelers was ʼn belangrik faktor in sy besluit om die Leeus se heelagter, Quan Horn, op losskakel te kies vir Saterdag se wedstryd teen die Barbarians in Gqeberha. Dis weens Manie Libbok se werkslading in Japan, Sacha Feinberg-Mngomezulu se besering en Handré Pollard se betrokkenheid in die Bulle se Verenigde Rugbykampioenskaps-eindstryd. Erasmus sê Horn se veelsydigheid kan in die langtermyn waardevol wees:
Die Valke het Saterdag in die Durban-hawe in KwaZulu-Natal beslag gelê op ongeveer 90 kilogram vermoedelike kokaïen met 'n geraamde straatwaarde van 36 miljoen Suid-Afrikaanse rand. Die Valke se woordvoerder, Katlego Mogale, sê hulle het inligting ontvang oor die dwelms wat versteek was in 'n graafmasjien wat per skip, die Neptune Ace Tokyo, uit Santos in Brasilië by die Q- en R-motorterminaal aangekom het. Sy sê met aankoms het 'n deeglike inspeksie verdagte pakkies onthul wat versteek was in 'n paneel wat na die enjinruimte lei:
Die gesogte Hartebeestloop Bonsmara-veiling vind komende Saterdag plaas. Dit sal vanaf half-twaalf die oggend by die top-Bonsmara-teler dr. Joggie Briedenhann se Hartebeestloop-plaas in die Stampriet-distrik en aanlyn via SwiftVee aangebied word. Briedenhann het met Kosmos 941.1 Nuus gepraat.
Die Khomanin tradisionele owerheid het Saterdag 'n stem-vergadering onder die gemeenskap in Windhoek gehou oor die voorgestelde verwydering van die huidige Khomanin leier en hoof, Julienne Gawanas. Daar word gekla dat sy gemeenskapsgrond aan welgestelde nie-gemeenskapslede verkoop en ook donasies aan die gemeenskap vir haarself hou. Volgens die voorlopige uitslae was daar 634 stemme vir Gawanas se verwydering en 69 daarteen, met vier bedorwe stembriewe. Nog stemmings sal gehou word. Kosmos 94.1 Nuus het met die Khomanin bestuurskomiteelid Shaun Gariseb gepraat, wat verduidelik wat vorentoe sal gebeur.
Die voormalige Britse gesondheidsminister Wes Streeting het bevestig dat hy aan enige leierskapswedloop van die Arbeidersparty sal deelneem om Keir Starmer te vervang. Streeting het Donderdag die eerste senior minister geword wat bedank het, in wat algemeen beskou word as die begin van 'n uitdaging teen Starmer se leierskap. Hy het gesê hy het vertroue in die eerste minister verloor en glo Starmer behoort nie sy termyn in die amp uit te dien nie. Tydens 'n geleentheid Saterdag het Streeting ook Brexit as 'n “katastrofiese fout” beskryf.
Rugby: Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, sê hulle sal moet verbeter voor volgende Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen die Ierse span, Munster, op Loftus Versfeld. Die Bulle het die Italiaanse span Benetton 45-19 afgeransel vir ʼn tuis-kwarteindstryd. Dit was hul sesde agtereenvolgende sege, wat die vierde plek op die punteleer verseker het. Munster het die Leeus 24-17 geklop en vyfde geëindig. Ackermann sê hulle aanvalstegnieke is een van die fokuspunte:
Eskom berei voor vir die geleidelike oorgang van steenkoolkragstasies, met besluite oor die sluiting en hergebruik van ouer aanlegte wat tussen Julie en September 2026 verwag word. Daarbenewens sê Eskom dat meer as 500 000 huishoudings voordeel trek uit sy lasverminderingsprogram, met die Noord-Kaap en Wes-Kaap wat lasvermindering ten volle uitgeskakel het. Eskom het Saterdag vir die eerste keer sedert 2018, 365 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag gevier. Woordvoerder Daphne Mokoena het meer:
Orlando Pirates het Saterdag 'n terugslag in die Premierliga-titelstryd beleef ná 'n doellose gelykopuitslag teen Durban City. Pirates het balbesit oorheers en verskeie kanse geskep, maar is herhaaldelik deur die Durban City-verdediging en doelwagter Fredrick Asare gekeer. Die uitslag laat hulle twee punte agter die voorlopers, Mamelodi Sundowns. Afrigter Abdeslam Ouaddou sê sy span moet hul laaste wedstryd teen Orbit College FC wen om hul titelhoop lewend te hou.
Motorsport-entoesiaste regoor Namibië maak gereed vir 'n lekker naweek met die Swakop-tydren, die eerste been van die Namibiese Nasionale Tydrenkampioenskappe, wat Saterdag op die kusdorp plaasvind. Francois Lottering het meer.
Die Bloedoortappingsdiens doen 'n dringende beroep op alle Namibiërs om vandag se Rooi Saterdag-bloedskenkingsklinieke te ondersteun, aangesien nasionale bloedvoorraadvlakke steeds daal. Gesonde burgers tussen die ouderdomme van 16 en 70, wat minstens 50-kilogram weeg en aan die skenkingsvereistes voldoen, word aangemoedig om by klinieke in Windhoek, Oshakati en Walvisbaai te skenk. Die diens se onderwysbeampte Frieda Vatileni-Asino is aan die woord:
Die Intelligence Support against Poaching, of ISAP, se Junior Ranger-kursus wat Saterdag begin het en tot 10 Mei duur, is in volle swang. Die kamp, wat kinders van 13 tot 18 jaar onder meer leer spoorsny, toerus met basiese oorlewingsvaardighede en ‘n magdom kennis van die natuur, kweek ook respek en dissipline onder tieners. Fritz Kaufmann, die stigter van ISAP, vertel meer van die naweek se bedrywighede:
Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê Iran het weereens bewys hy is die beskawing se vyand en ʼn gevaar vir die vrye wêreld, want hy gebruik terreurmissiele om kinders, gesinne en bejaardes te teiken. Netanyahu het die terrein van Saterdag se missielaanval in die suidelike stad Arad besoek waar 115 mense gewond is. Hy sê Iran teiken burgerlike gebiede want hulle doel is om burgerlikes te vermoor. Hy sê hulle sal voortgaan om die Iranse regime te beveg:
Puma Energy Namibia sal vir die tweede agtereenvolgende jaar brandstof borg om die Namibia Endurance Championships te fasiliteer, wat vandag tot Saterdag by Hentiesbaai plaasvind. Vanjaar se geleentheid het 'n rekordinskrywing van 105 perde en hul ruiters van 11 klubs gelok, wat aandui dat die sport groei en al hoe gewilder word. Marna Oosthuizen, woordvoerder van die Namibia Endurance Championships, het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat.
Die Auas Hills Aftreeoord hou Saterdag hul jaarlikse markdag. Die aftreeoord bied ook versoringsdienste vir verswakte bejaardes. Rita van Vuuren van die beplanningskomitee nooi die publiek uit om die markdag by te woon wat ook versorging van pasiënte sal ondersteun. Van Vuuren het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat.
Amerika se minister van Verdediging, Pete Hegseth, sê die oorlog met Iran kan tot agt weke duur, wat langer is as wat president Donald Trump se administrasie aanvanklik gesê het. Ses Amerikaanse weermaglede is dood sedert die konflik verlede Saterdag begin het. Volgens menseregtemonitors is meer as 'n duisend burgerlikes, insluitend 180 kinders, in Iran dood. Hegseth gee toe dat Iran steeds missielaanvalle kan uitvoer, maar beklemtoon dat Teheran nie Amerikaanse militêre mag kan oorleef nie:
Kanada se eerste minister, Mark Carney, sê die Amerikaans-Israelse oorlog teen Iran is nog 'n voorbeeld van die internasionale orde se mislukking. Amerika sê hy het meer as 1 700 teikens in Iran getref sedert hy Saterdag met militêre optrede begin het. Teheran het geregeer met 'n vlaag aanvalle in die Midde-Ooste. Carney sê al beskou Kanada Iran se kernprogram as 'n ernstige globale bedreiging, vra hulle dat vyandelikhede vinnig afgeskaal word:
President Donald Trump sê daar sal waarskynlik nog Amerikaanse ongevalle wees as deel van Operasie Epic Fury in Iran. Drie Amerikaanse soldate is tydens die operasie dood en vyf ander is ernstig gewond. Iran se opperleier Ali Khamenei is Saterdag in gesamentlike aanvalle deur Amerika en Israel dood. Iran het gereageer met aanvalle op Amerikaanse weermagbasisse in die Midde-Ooste. Trump sê die operasie sal met volle mag voortgaan tot al hul doelwitte bereik is:
Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê sy land het 'n versoek van Amerika goedgekeur om Britse Weermagbasisse te gebruik vir verdedigende aanvalle teen Iran. Die Lugmagbasisse is Fairford in Gloucestershire en die hoogs omstrede Diego Garcia op die Chagos-eilande. Starmer het herhaal dat Brittanje nie betrokke was in Saterdag se Amerikaans-Israelse lugaanvalle op Iran waarin die land se opperleier, Ali Khamenei, dood is nie:
Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê 'n Iranse regime gewapen met langafstandmissiele en kernwapens hou 'n ernstige bedreiging vir alle Amerikaners in. Dit volg terwyl Iran se vergelding toeneem nadat die land se opperleier, ajatolla Ali Khamenei, Saterdag dood is in Amerikaans-Israelse aanvalle. Drie Amerikaanse Weermaglede is ook dood tydens Operasie Epic Fury, en vyf ernstig gewond. Trump sê Iran verwerp all geleenthede om sy kerndoelwitte te laat vaar:
Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, het Israel en Amerika se aanval Saterdag op Iran veroordeel. Tydens ‘n noodvergadering van die VN se Veiligheidsraad in New York, het Guterres ook Iran se teenreaksie veroordeel, veral die skending van die territoriale soewereniteit van Bahrein, Irak, Jordanië, Koeweit, Katar, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate. Guterres sê die oorlog bedreig internasionale vrede en stabiliteit en die belangrikheid van die onmiddellike hervatting van diplomatieke onderhandelings beklemtoon.
Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap sê bek-en-klouseer is bevestig op 'n vers-plaas naby Mosselbaai, 21-kilometer noord van die oorsprong-plaas. ʼn Woordvoerder, Herman Pieters, sê kalwers van die oorspronklike plaas is Saterdag na hierdie eiendom verskuif. Hy sê alle vee op die betrokke plaas, asook ʼn buurplaas, is intussen ingeënt:
Die goudprys het Vrydag in New York tot 5 106 Amerikaanse dollar per fynons geklim na president Donald Trump se aankondiging dat hy sy tariewe wat deur die hooggeregshof omvergewerp is, met 10-persent tariewe teen alle lande gaan vervang. Saterdag het hy aangekondig hy gaan dit na 15-persent verhoog. Die prys van Brent ru-olie het ook Vrydag gestyg tot bo 71 dollar per vat te midde van spanning tussen Amerika en Iran. Kosmos 94.1 Nuus het met die Suid Afrikaanse ekonoom, Dawie Klopper gepraat oor wat met die olieprys en die Amerikaanse dollar kan gebeur.
Frankryk het in die Stade Pierre-Mauroy in Lille ʼn 33-8-bonuspuntoorwinning oor Italië behaal en is ʼn stap nader aan ʼn Sesnasies Grand Slam en agtereenvolgende titels. Les Bleus het vyf drieë gedruk teenoor die een van Italië. Frankryk reis na Edinburgh om Saterdag, 7 Maart, teen Skotland kragte te meet. ʼn Bonuspunt-oorwinning op Murrayfield sal die titel vir Fabien Galthie se span beklink. Frankryk se verdedigingsafrigter, Shaun Edwards, sê dit was ʼn taai wedstryd:
Die minister van buitelandse sake, Marco Rubio, het Saterdag in 'n boodskap oor eenheid, na Amerika verwys as die "kind van Europa". Rubio het by die jaarlikse Veiligheidskonferensie in München gepraat, waar Europese nasies hul eie onafhanklikheid wil bevorder maar 'n vennootskap met Amerika probeer handhaaf. Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, en die Duitse minister van Buitelandse Sake, Johann Wadephul, was ná die toespraak optimisties. Litaue se oudminister van Buitelandse Sake, Gabrielius Landsbergis, meen egter die toespraak het nie van bestaande Amerikaanse standpunte afgewyk nie, maar is bloot meer beleefd aangebied.
Hierdie naweek stap Namibiërs uit solidariteit met kinders wat teen kanker veg en einde-van-lewe behandeling nodig het. Terwyl die wêreld Sondag Wêreldkankerbewustheidsdag vir Kinders vier, doen die Kankervereniging van Namibië, saam met die Lions-klub en wêreldwye pediatriese onkologie-vennote, 'n beroep op gesinne landwyd om hierdie Saterdag vir hoop te stap. Deelnamegeld vir studente is 20 Namibiese dollar en 50 dollar vir volwassenes. Geleenthede word in Windhoek, Rehoboth, Swakopmund en Walvisbaai beplan om broodnodige fondse in te samel. Kosmos 94.1 Nuus het met die Kankervereniging se uitvoerende hoof, Rolf Hansen gepraat.
Hollie Davidson van Skotland sê dis 'n reuse-eer om wedstryde in die Sesnasies-reeks te hanteer. Die 33-jarige word Saterdag die eerste vroue-skeidsregter van 'n manswedstryd in die Sesnasies wanneer Ierland Italië in Dublin ontvang. Sy het tot dusver geblaas in 47 toetse - 34 vroue- en 13 mans-wedstryde - in die Olimpiese en die Statebondspele, asook twee vroue-Wêreldbekertoernooie. Davidson hoop om jong meisies en seuns te inspireer:
As deel van sy voortgesette pogings om bloedskenking te bevorder, het die Bloedoortappingsdiens van Namibië die "Skenk op 'n Afspraak"-veldtog vandag geloods en dit sal tot Valentynsdag op Saterdag, 14 Februarie duur. Die veldtog moedig beide huidige en voornemende skenkers aan om bloed in pare te skenk as 'n simbool van liefde en toewyding aan pasiënte in nood. Skenkers word genooi om deel te neem as paartjies, ouers en kinders, vriende, kollegas, broers en susters, of selfs as twee vreemdelinge. Die Bloedoortappingsdiens se opvoedkundige beampte, Frieda Vatileni-Asino, het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat:
Namibië se vrouehokkiespan bly onoorwonne by die Nkosi-binneshuise toernooi in Kaapstad ná hulle Nieu-Seeland Saterdagoggend met 7-3 geklop het. In hul eerste wedstryd Vrydag, het die span Zimbabwe ook met 7-3 verslaan. Die vroue durf Australië vanmiddag om drie-uur aan. Afrigter Shayne Cormack het Saterdag se kragmeting só opgesom:
Die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in KwaZulu-Natal, Thulasizwe Buthelezi, sê alles moontlik word gedoen om oorlewendes na die Verulam-tempel se ineenstorting te red. Reddingspanne in Durban het 'n vyfde liggaam uit die puin herwin, ná vier liggame van mans Saterdag gevind is. Verskeie mense is volgens berigte moontlik steeds vasgekeer. Spanne gebruik hand- en elektriese gereedskap om deur dik beton te breek. Owerhede sê herwinningsoperasies sal voortduur ondanks moeilike weersomstandighede, met soek- en reddingspogings wat die primêre fokus bly.
Liverpool se bestuurder, Arne Slot, ontken dat die situasie met voorspeler Mohamed Salah sy gesag ondermyn. Die Egiptenaar het Saterdag in ʼn skokkende onderhoud beweer die klub het hom in die steek gelaat en sy verhouding met Slot het skade gely. Die bestuurder het Salah vir Liverpool se laaste drie wedstryde op die bank gelaat, en hy is nie ingesluit by die groep wat vandag in die Kampioeneliga teen Inter Milan uitdraf nie. Slot sê hy is verras deur Salah se opmerkings:
Net 36,3 persent van mense wat geregistreer het om in die afgelope plaaslike owerheidsverkiesing te stem, het hul kruisies Woensdag gaan trek, toon amptelike uitslae wat Saterdag deur die Verkiesingskommissie van Namibië, die ECN, vrygestel is. Swapo het 52,4 persent van alle stemme in die plaaslike owerheidsverkiesing gewen, gevolg deur die Independent Patriots for Change met 15,01 persent en die Landless People's Movement met 5,85 persent. Die voorsitter van die ECN, Elsie Nghikembua, het tydens die bekendmaking van die finale uitslae ‘n beroep op Namibiërs gedoen om die uitslae te aanvaar:
Namibië se Capricorn Eagles het teruggebons en hul tweede wedstryd by die IKR Vroue Ontluikende Nasies Trofee-toernooi in Bangkok, Thailand gewen. Die Eagles het Uganda met 12 lopies geklop nadat hulle eerste gekolf en 83 vir 8 in hul 20 kolfbeurte aangeteken het. Hulle het daarna Uganda beperk tot 71 vir 7 in 20 boulbeurte. Namibië se bouler Leigh-Marie Visser is as die speler van die wedstryd aangewys na sy drie paaltjies laat kantel het vir net 10 lopies in 4 boulbeurte. Die Eagles se volgende wedstryd is Saterdag teen Thailand.
Rugby: Die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe sê hulle sal Saterdag in Dublin ten volle gebruik moet maak van geleenthede om punte aan te teken teen Ierland. Suid-Afrika het Ierland laas in 2012 op die Aviva-stadion geklop en Saterdag se kragmeting bied ʼn kans om na 13 jaar weer sukses te behaal in die Ierse hoofstad. Kolbe verwag ʼn fisiese wedstryd en beklemtoon hulle sal moet aanpas by die scenario's wat op die veld uitspeel:
Die Springbok-hulpafrigter Tony Brown sê hulle neem Italië nie ligtelik op nie, omdat hulle 'n gevaarlike span is. Albei spanne is vol selfvertroue vir Saterdag se botsing in Turyn, met Suid-Afrika wat Frankryk met 32-17 geklop het, terwyl Italië 'n oorwinning van 26-19 oor Australië behaal het. Brown sê die Italianers is 'n groot bedreiging by die afbreekpunte, en ook baie gevaarlik wanneer hulle ruimte en geleenthede kry:
Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê hy hoop op ʼn oortuigende oorwinning teen Zambië omdat hy hul plek op die FIFA-ranglys wil verbeter. Saterdag se internasionale vriendskaplike wedstryd in die Baai is deel van Suid-Afrika se voorbereiding vir die Afrikanasiesbeker wat volgende maand in Marokko begin. Bafana Bafana is in Groep B met die sewemalige wenners en rekordhouer Egipte, Angola en Zimbabwe. Broos sê sy spelers moet dieselfde fokus en mentaliteit hê wat hulle in die Wêreldbeker-kwalifiseerwedstryde gehad het:
Die Britse polisie sê daar is niks wat daarop dui dat die messteek-aanval aan boord van 'n Doncaster-Londen-trein Saterdag 'n terroriste-voorval was nie. Vier van die nege mense wat aanvanklik vermoed is, ernstig beseer is, is uit die hospitaal ontslaan, terwyl twee se toestand steeds ernstig is. Die eerste minister Keir Starmer het die aanval as afgryslik en diep kommerwekkend beskryf. Die Britse vervoerpolisie-superintendent John Loveless sê twee mense is in hegtenis geneem:
Die Springbok-stut Ox Nché is ná ʼn besering vir res van die jaareindtoer na Europa op die kantlyn, terwyl Asenathi Ntlabakanye hom vervang. Nché het Saterdag sy been seergemaak tydens Suid-Afrika se skitterende 61-7-sege oor Japan op die Wembley-stadion in Londen. Ntlabakanye het in Julie die eerste keer vir die Bokke uitgedraf in hul toets teen Italië. Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê Ntlabakanye was op die toer se bystandlys, en is bekend met die span se strukture en stelsels: